Geskiedkundige dorpie in veldbrand verwoes

Geboue staan in ligte laaie terwyl die Dixie-veldbrand in Greenville, Kalifornië woed (4 Augustus 2021) (Foto: Josh Edelson/AFP)

Die grootste veldbrand in Kalifornië het ʼn dorpie in die staat se noordooste verwoes. Straatligte het in die hitte van die brand gebuig en geskiedkundige geboue is verwoes ure ná inwoners aangesê is om te vlug.

Greenville, ʼn nedersetting van ʼn paar honderd mense wat tot die goudstormloop in die mid-1800’s terugdateer, is deur vlamme verswelg toe die wind die brand in die rigting van die gemeenskap gestuur het.

“Die onderdorp van Greenville is grootliks heeltemal verwoes,” het Stuart Palley, veldbrandfotograaf, op Twitter gesê en foto’s van die verwoesting gedeel. “My hart breek vir hierdie mooi klein dorpie.”

Die Dixie-veldbrand woed al sedert middel Julie as deel van ʼn klimaatskrisis wat versengende hitte en ʼn kommerwekkende droogte veroorsaak het.

Owerhede het vroeër ʼn ontruimingsbevel aan inwoners uitgereik toe sterk wind die brand aangeblaas het wat op 1 300 km² sowat sewe keer so groot is soos die Amerikaanse administratiewe hoofstad Washington. Die brand is só groot dat hy sy eie weerstelsel veroorsaak.

“Ons het alles gedoen wat ons kon,” het Mitch Matlow, woordvoerder van die Kalifornië-brandweer, aan verslaggewers gesê. “Soms is dit net nie genoeg nie.”

Voertuie en ʼn gebou brand tydens die Dixie-veldbrand in Greenville, Kalifornië (4 Augustus 2021) (Foto: Josh Edelson/AFP)

Foto’s deur ʼn AFP-fotograaf wys hoe die brand se hitte straatligte gebuig het. Slegs ʼn paar strukture het staande gebly. ʼn Vulstasie, hotel en kroeg is verwoes asook talle geboue wat meer as ʼn eeu oud is.

Die brand het Woensdag omstreeks 16:00 (2300GMT) die dorp binnegekom, aldus Jake Cagle, bedryfshoof van die rampbestuurspan. Hy het gesê brandbestryders moes tyd en hulpbronne afstaan aan inwoners wat nie ag geslaan het op die ontruimingsbevel nie. “Dit is intense brandgedrag – dis nie iets waaraan ons gewoond is nie,” het hy bygevoeg.

Die sheriff se departement in Plumas het laat Dinsdag ʼn ontruimingsbevel uitgereik vir die sowat 2 000 inwoners van Chester om te vlug. “As jy agtergebly het, moet jy ONMIDDELLIK OOS ontruim,” lui ʼn boodskap wat op hul amptelike Facebook-blad gedeel is.

In ʼn tweede waarskuwing op sosiale media het die departement bygevoeg; “As jy steeds in die Greenville-gebied is, is jy in dreigende gevaar en jy MOET nou die dorp verlaat! As jy agterbly, kan nooddiensbeamptes jou moontlik nie help nie.”

Geboue staan in ligte laaie terwyl die Dixie-veldbrand in Greenville, Kalifornië woed (4 Augustus 2021) (Foto: Josh Edelson/AFP)

Teen die einde van Julie het 250% meer hektaar reeds in Kalifornië afgebrand as in 2020 – een van die ergste jare van veldbrande in die staat se moderne geskiedenis.

Die Dixie-veldbrand herinner aan die Paradise-veldbrand, die dodelikste veldbrand in Kalifornië se onlangse geskiedenis. Foute op kragkabels het die brand veroorsaak en 86 lewens geëis in die noordelike dorp van Paradise. Pacific Gas and Electric (PG&E), Kalifornië se grootste kragvoorsiener, is aanspreeklik gehou. PG&E-toerusting word weer blameer vir die Dixie-brand ná ʼn boom op ʼn kraggeleier geval het die dag toe die brand uitgebreek het. Die kragvoorsiener het teen die einde van Julie gesê hy sal sowat 16 000 km se kragdrade begrawe in ʼn poging om te voorkom dat sy toerusting nog dodelike veldbrande veroorsaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Alida ·

Die Engelse uitdrukking ‘downtown Greenville’ verwys na die middedorp of sentrale sakekern van die dorp, nie na die ‘onderdorp’ soos in die berig nie. In Afrikaans het ‘onderdorp’ ‘n baie negatiewe betekenis van die armste deel van die dorp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.