Gesogte Michelin-ster vir nederige ‘taquería’

El Califa de León in Mexikostad spesialiseer in net vier soorte taco’s. (Silvana Flores / AFP)

ʼn Beskeie klein taco-restaurant in Mexiko, omtrent net ʼn gat in ʼn muur, is een van die eerste restaurante in dié land wat ʼn gesogte Michelin-ster verower het.

Mario Hernandez, die eienaar van Taquería El Califa de León, skryf dié prestasie aan “liefde en ywer” toe.

Die restaurant is een van 18 restaurante wat een of twee Michelin-sterre tydens Dinsdag se bekendstelling van Michelin se restaurantgids vir Mexiko ontvang het.

El Califa de León, ʼn familieonderneming wat al vyf dekades bestaan, spesialiseer in net vier soorte taco’s en het slegs plek vir ʼn paar klante op ʼn slag in die San Rafael-distrik van Mexikostad.

“Hierdie taquería mag dalk skraps voorkom met net genoeg plek vir ʼn handjievol klante by sy toonbank, maar sy skepping, die Gaonera-taco, is besonders,” sê die Michelin-gids op sy webwerf.

“Dun gesnyde beesfilet word meesterlik berei en slegs met sout en ʼn bietjie lemmetjiesap gegeur. Terselfdertyd berei ʼn tweede sjef uitstekende graantortillas voor. Dié kombinasie is suiwer en vars.”

Sjef Arturo Rivera Martinez berei tacos by El Califa de León in Mexikostad voor. (Foto: Silvana Flores / AFP)

Die Gaonera, wat net meer as $4 (sowat R73) kos, is ter ere van die gevierde Mexikaanse stiervegter, Rodolfo Gaona, geskep wie se bynaam in die arena “El Califa de Leon” was.

Die restaurant is meer as 50 jaar gelede deur Hernandez se ouers op die been gebring.

“My pa het gevra ‘wil jy die geheim van die vleis weet?’ en geantwoord dat daar ‘geen geheim is nie, net liefde en ywer’,” het die 66-jarige Hernandez buite die restaurant gesê. Sy stem met emosie gelaai.

Hernandez sê sy pa het hom altyd geleer om gehalte, kliëntediens en pryse omsigtig te hanteer en te koester aangesien die “lewe soos ʼn wiel is wat die goeie en die slegte bied”.

Joernaliste en kookkunsstudente het Woensdag in groot getalle buite die restaurant byeengekom.

“Die taco’s is werklik heerlik,” het Hector Lancastre (19), een van dié studente, gesê. Hy het bygevoeg dat die restaurant sy Michelin-ster deur en deur verdien.

Twee statiger restaurante in Mexikostad, Quintonil en Pujol, het elkeen twee Michelin-sterre ontvang.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.