Gesonde seuntjie, al is ma breindood

Foto: WerbeFabrik/Pixabay.com

Foto: WerbeFabrik/Pixabay.com

ʼn Gesonde babaseuntjie is Woensdag in Portugal gebore nadat sy ma vier maande gelede breindood verklaar is, maar met masjiene aan die lewe gehou is.

The Guardian berig die seuntjie se ma (37), wie se naam nie bekend gemaak is nie, het in Februarie vanjaar breinbloeding opgedoen en is kort daarna breindood verklaar.

Die seuntjie het tot dusver die langste in die baarmoeder oorleef vergeleke met ander babas in Portugal, nadat die ma breindood verklaar is.

Dokters het die pa van die seuntjie aangeraai om die ma met masjiene aan die lewe te hou, omdat die seuntjie glo gesond was.

Die seuntjie, wat 2,4 kg by geboorte geweeg het, is deur middel van ʼn keisersnee in die wêreld gebring.

Luis Graça, hoof van die Portugese vereniging van ginekoloë, sê dit het nog nooit in Portugal gebeur nie. “Die geboorte van die seuntjie is ʼn buitengewone prestasie vir die mediese veld,” het hy gesê.

Nog ʼn baba is in Januarie in Wroclaw, Pole, gebore, wat 55 dae lank in die baarmoeder oorleef het nadat sy ma aan ʼn breingewas dood is. Die seuntjie is in April vanjaar huis toe saam met sy pa.

Colvina Jolin, ʼn 28-jarige vrou van Hampshire in Engeland, het ook geboorte gegee aan ʼn gesonde baba nadat sy vir drie maande in ʼn koma was weens bloeding op die brein. Die baba is ses weke voor sy uit die koma wakker geword het gebore.

ʼn Vrou in die VSA, wat reeds vir tien jaar in ʼn koma was, het ook geboorte geskenk aan ʼn gesonde babaseun nadat sy verkrag is. Die vrou is steeds in ʼn koma.

Bron: The Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gesiggie ·

Ek huil hier waar ek die berig lees… Here hoekom?? hoekom sal die Ma nooit die ou bondeltjie vreugde kan sien…vir 4 maande lank, het die lewe’tjie binne haar gegroei en aangehou groei sonder enige komplikasies…. kon dit nie maar net n Miracle gewees het dat die Mamma die vooreg kon geniet, om daai klein lyfie teen haar vas te druk… dit is so hartseer, en terselfde tyd… gee n mens Dank… aan God, dat hy n lewe gegee het, al gaan daar n lewe geneem word…sterkte aan die Pa wat die baba moet groot maak, sonder haar Mamma… ek stel voor plaas daai klein bondeltjie liefde op die Mamma se bors… ek is vas oortuig, Mamma gaan weet haar baba seuntjie was by haar…

Liza ·

Die berig is goeie nuus en ontstellend in een! Die seun is ‘n wonderwerk! Maar aan die ander kant, watter tipe mens verkrag iemand wat reeds 10 jaar in ‘n koma is? Siek! En hoe oorleef ‘n baba in die baarmoeder sonder suurstof vir 55 dae nadat die mamma dood is (nie breindood nie, volgens die berig)????

Louise ·

Dit is met so wonderwerk, onder andere die baba in Portugal, wat ek net my hand op my mond kan sit en weet dat ek weet, die Here het ‘n plan, ook met die kind se lewe. X

Nuus ·

Die berig oor die verkragting is ontstellend, maar mense ongelukkig is dit nuus en moet mens bewus wees daarvan, sodat ons almal kan weet – geen manlike verpleer of skoonmaker naby ‘n dame in ‘n koma. So dankbaar vir die kindertjies wat bly leef het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.