Gesoute akteur nou bekyk oor vrou se dood

Robert Wagner en Natalie Wood in 1972. Foto: AP File Photo

Die verdrinking van die aktrise Natalie Wood (43) word nou as ʼn “verdagte dood” bekyk nadat nuwe getuies na vore gekom het.

Die gesoute akteur Robert Wagner (87) word intussen beskryf as ʼn “persoon van belang” rakende sy vrou se dood in 1981.

Wood het op 28 November verdwyn nadat sy, Wagner en vriende op hul boot “Splendour” gekuier het terwyl hulle die Santa Catalina-eiland aan die kus van Kalifornië besoek het. Haar liggaam is die volgende dag in die water gevind.

Wood se dood is aanvanklik as ʼn ongeluk bestempel, maar die saak is in 2011 heropen om te probeer vasstel of Wagner of enigiemand anders dalk ʼn rol gespeel het.

Volgens die polisie het ʼn nuwe getuie na vore gekom wat glo ʼn geskree en ander geluide vanuit die egpaar se kamer op die boot gehoor het. Ander getuies het glo ʼn man en vrou sien stry op die agterkant van die boot.

Wagner het egter enige betrokkenheid in sy vrou se dood ontken. Wood was saam met Wagner, die akteur Christopher Walken en die skipper op die boot.

Dennis Davern, die skipper, het in 2011 aan ʼn nuusagentskap gesê hy het destyds vir die polisie gelieg tydens hul aanvanklike ondersoek en dat ʼn woordewisseling tussen Wagner en Wood tot haar dood gelei het.

Wagner het nog nie op die jongste verwikkelinge kommentaar gelewer nie, maar wel in sy memoir erken dat hy en sy vrou voor haar dood baklei het. Wagner weier glo om met ondersoekers te praat sedert die saak in 2011 heropen is.

Wood was bekend vir haar rolle in Miracle on 34th Street, Splendor in the Grass, Rebel Without a Cause en West Side Story.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Renette ·

Hoekom het die mense wat dit gehoor het nie jare gelede daarmee uitgekom nie. Hoekom nou eers.

Adri ·

Sensasie…… daar is nou belangriker sake wat aandag kort maar ja moord is moord….. ai die man se lewe is verby 87 jaar oud, realy…. maar soos ek se moord is moord…hy is dalk al dood voor saak afgehandel is…… en hoe kan n mens so lank saam jou gewete lewe…..

snoefie ·

die feit dat daar nou twee weergawes is oortuig my dat iemand daarop uit is om munt uit die verlede te slaan.

Ada ·

Ek onthou die storie goed – sy gewete het hom seker na al die jare begin ry – goed so!
Nou kan die waarheid seevier!

Liezl ·

Ek sê eerder jou knie buig hier op aarde en regmaak as wat jy moet gaan verduidelik voor ons Vader.

Jailtime ·

AG hy was nog altyd ‘n verdagte, maar soos gewoonlik kom die bekendes en aktrises en akteurs met moord weg. Daar was al baie soorgelyke gevalle, maar as jy ‘n CELEB is, word dinge so bietjie misgekyk of jy het ‘n baie goeie regspan wat jou verdedig. Ek sal baie bly wees vir haar familie as die waarheid uiteindelik uitkom want ek dink dit ‘haunt’ jou vir solank daar nie antwoorde is nie.

Gert ·

Tipies ons voorbeeldige christenmense….hy moet skuldig wees want daar is n ondersoek…onthou julle die lessie van die balk en die splinter?

Theresa ·

Hy het niks erken nie en voel nie skuldig sover ek kan aflei nie. Sou dink hy voel al die jare seer? Wie sê waar hy is skuldig?!!
Sou die een wat soveel jare niks gesê het nie, van dwarsboming van die gereg ry.

Carien ·

As ek dit nie mis het nie was daar na haar verdrinking bespiegelinge daaroor, Wagner was toe reeds al onder verdenking.

Nel ·

‘Al loop die leuen nog so snel, die waarheid agterhaal hom wel’…al is dit ook 36 jaar later.

Grace Mugabe ·

Sal ons mekaar nou uithaal oor ander se streke? Rondom ons val lewens uitmekaar, kinders verloor “m stryd wat nooit hulle s’n was om mee te begin nie en is vuisvoos sonder dat ‘n hou geplant is. Laat jou stem vir hulle gehoor word.

TLC ·

Oooooo ek onthou die tragedie so goed soos gister.en voor ek weer geslag word hoop ek regtig geregtigheid geskied. Ek onthou my ma se kommetaar nog so goed ‘die man het haar vermoor en hy gaan daarmee wegkom’ en dit is maar net daai woorde van my ma wat my al die jare bybly

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.