Gesteelde skildery moontlik dekades later in galery gevind

Portret van ʼn vrou (Foto: Facebook)

’n Skildery van die Oostenrykse kunstenaar Gustav Klimt (1862-1918) is waarskynlik vandeesweek in dieselfde Italiaanse kunsgalery gevind waar dit byna 23 jaar gelede verdwyn het.

Tuiniers het Dinsdag ʼn skildery wat op ʼn druppel na die gesteelde skildery, Portret van ʼn vrou, lyk in ’n holte van een van die buitemure van die Ricci Oddi- galery vir moderne kuns in die noordelike stad Piacenza gevind. Dié holte is deur ’n metaaldeur beskerm wat deur ’n rankplant versteek is.

Die galerypersoneel is onmiddellik in kennis gestel.

Die Klimt-skildery het in 1997 uit die galery verdwyn. Die skildery is deel van ’n reeks skilderye van vroue wat Klimt in die laaste jare van sy lewe tussen 1916 en 1918 geskilder het. Dit was nooit duidelik wat met die skildery gebeur het nie.

“Ek het pas teruggekeer van my middagete toe roep iemand: ‘Kom, hier is ʼn kunswerk. Ek het gedink iemand bak my ’n poets,” sê Dario Gallinari, een van die werknemers by die galery.

Die skildery was in ʼn swart plastieksak toegedraai, maar Gallinari het dit onmiddellik as die vermiste Klimt herken. “Ek het ʼn goeie oog”, voeg hy by.

Hy vertel dat sy hande gebewe het toe hy die skildery na die galery se sekuriteitshoof geneem het. Dié het toe die polisie gebel. Die skildery is in ’n uitstekende toestand en is tans in polisiebewaring vir verdere ondersoeke na die egtheid daarvan.

Volgens Gallinari is daar ’n goeie kans dat dié skildery die ware Jakob is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

AmY ·

Gelukkig is dit nie vir veilige bewaring by óns polisie nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.