Gestrande ruimtevaarders keer eers in September terug

Sergey Prokopyev en Dmitry Petelin (Foto: ISS/Instagram)

Rusland se ruimteagentskap het Dinsdag gesê sy bemanning, wat op die Internasionale Ruimtestasie gestrand is weens ʼn beskadigde kapsule, sal na verwagting in September na die Aarde terugkeer. Dit is ʼn jaar ná hulle vertrek het.

Die Russiese ruimtevaarders Dmitry Petelin en Sergei Prokopyev en Nasa-ruimtevaarder Frank Rubio het in September 2022 na die ISS vertrek aan boord ʼn Soyuz MS-22-kapsule.

Hulle sou met dieselfde vaartuig teruggekeer het huis toe, maar verkoelingsvloeistof het in die middel van Desember by die vaartuig begin uitlek ná dit vermoedelik, volgens Amerikaanse en Russiese ruimteowerhede, deur ʼn klein ruimterots getref is.

Rusland beplan om op 24 Februarie ʼn reddingsvaartuig, Soyuz MS-23, te stuur.

Voor die lekkasie sou die drie mans op 28 Maart 2023 na die Aarde teruggekeer het.

Frank Rubio (Foto: ISS/Instagram)

Roscosmos het Dinsdag in ʼn verklaring gesê hul terugkeer “is in hierdie stadium vir September 2023 geskeduleer aan boord die Soyuz MS-23”.

Roscosmos sê die verlengde reis, gewoonlik duur ISS-sendings ses maande, hou nie enige gesondheidsrisiko in vir die bemanning nie en dat hulle “positief” gereageer het op die nuus dat hulle verblyf verleng word.

Rusland se Pyotr Dubrov en Amerika se Mark Vande het in 2021 ook ʼn jaar op die ISS gebly ná hul sending verleng is, het Roscosmos bygevoeg.

Die lansering van die reddingskapsule is ook vroeër vandeesmaand uitgestel ná nóg ʼn vaartuig, die Progress MS-21 – ’n Russiese voorraadskip wat by die ISS geanker was, ook verkoelingsvloeistof uitgelek en kommer gewek het.

Roscosmos het Dinsdag gesê dié lekkasie is veroorsaak deur “ʼn eksterne impak”, gebaseer op foto’s en video’s wat gate op die kapsule se buitekant wys, insluitend op die verwarmingstoestel en sonkragpanele.

Die ruimte bly ʼn seldsame ligging van samewerking tussen Moskou en Washington sedert Rusland se inval in Oekraïne en voortgesette Westerse sanksies teen Rusland.

Die ISS is in 1998 gelanseer in ʼn tyd van toenemende samewerking tussen Rusland en die VSA ná die Koue Oorlog se “ruimtewedloop”.

Rusland gebruik al sedert die 1960’s die verouderde maar betroubare Soyuz-kapsules om ruimtevaarders te vervoer. Die land se ruimteprogram word egter die afgelope paar jaar geteister deur ʼn rits probleme wat gelei het tot die verlies van satelliete en vaartuie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Treurwilger ·

Só lank in die ruimte, eerder hulle as ek.
Tragies dat die Russies-Amerikaanse samewerking beperk is tot die buitenste ruim.
Wyer samewerking en beter diplomatieke betrekkinge kon soveel gesonder vir die wêreld wees.
‘n Organisasie soos NAVO sou bv. oorbodig wees …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.