Gestrande SA’ners: ‘Ons geld en medisyne is op’

Meer as 1900 Suid-Afrikaners is alreeds gerepatrieer (Foto: HomeAwayFromHome, Facebook)

“Meer as die helfte van die Suid-Afrikaners wat wêreldwyd gestrand was weens ná die instelling van algehele afsondering is reeds veilig tuis. Daar is egter steeds duisende wat in haglike toestande probeer oorleef.”

Só het Darren Bergman, die DA se skaduminister van internasionale betrekkinge en samewerking, Vrydag tydens ’n inligtingsessie van dié party gesê. Tot dusver is sowat 1 900 van net meer as 3 600 Suid-Afrikaners al gerepatrieer.

Bergman bestuur die HomeAwayFromHome-inisiatief wat minder as ’n maand gelede van stapel gestuur is nadat pleidooie van duisende gestrande Suid-Afrikaners ingestroom het. Dié inisiatief dien as platform waar gestrande Suid-Afrikaners van reg oor die wêreld met mekaar kontak kan maak, en individue die geleentheid het om finansiële bystand te verleen waar moontlik.

Dié projek het die afgelope maand tot ’n wêreldwye projek gegroei en beskik al oor ’n bestuurspan van 20 vrywilligers wat op elke vasteland dié gestrandes help.

Bergman sê mense deel daagliks hul hartroerende stories op dié groep se Facebook-blad

“Elke keer as jy dink jy hoor die ergste, gebeur daar iets erger. Daar is tans jong mense in Thailand wat Vrydag laas geëet het nadat hul ouers hul laaste R10 uit Suid-Afrika vir hulle gestuur het,” vertel Bergman.

Suid-Afrikaners in Asië

Daar is byna 700 gestrande Suid-Afrikaners regoor Asië wat nog wag vir vlugte terug huis toe. Van hulle trek finansieel swaar. Hulle is reeds 40 dae lank van hul geliefdes en families geskei.

Ruan en Soné Walkenshaw (26) (Foto: Verskaf)

Bergman sê hulle stoei nog om genoeg geld te kry om spesifiek dié Suid-Afrikaners te repatrieer.

Die Suid-Afrikaners in Bali en Thailand het die afgelope week video’s gemaak en op sosiale media versprei as pleidooie aan die Suid-Afrikaanse regering om hulle te help om terug te keer na Suid-Afrika. In die video’s vertel hulle hoe verlate en vergete hulle daar in die verte voel.

ʼn Vrou wat in Bali gestrand is en aan chroniese leukemie ly, het net genoeg chemo-medikasie vir twee weke saamgeneem en dit is nou op. Sy kon al twee keer nuwe voorskrifte by ’n hospitaal kry, maar hulle kan haar nie weer met ’n voorskrif help nie. Nog ’n vrou met diabetes se chroniese medikasie raak vinnig min.

ʼn Vrou wat 22 weke ver swanger is, moes twee weke gelede vir haar opvolgbesoek by die ginekoloog gewees het. Sy vrees ook dat sy teen die tyd dat hulle moet terugvlieg te ver swanger gaan wees om die reis te onderneem.

’n Man in Thailand sê hy moet geld leen om al sy uitgawes te dek.

Een van die vrywilligers van die HomeAwayFromHome-inisiatief sê daar is talle Suid-Afrikaners in Asië wat sonder inkomste sit. “Baie van hulle vrees ook dat hulle nie meer werk gaan hê wanneer hulle wel kan teruggaan huis toe nie.”

Maroela Media het vroeër berig van die 18-jarige Licois Coetzee van Pretoria wat in Kambodja sou skoolgee, maar tans werkloos is.

Coetzee sê Suid-Afrikaners word nie altyd in winkels toegelaat om kos te koop nie. Sy moet noodgedwonge by die gastehuis waar sy tuisgaan kos koop, en dit werk haar veel duurder uit.

Kospakkies word tans in onder meer Kambodja aan gestrande mense uitgedeel.

SA’ners gestrand op lughawe in Maleisië

Allan Huysamen (26) en Allister Nunn (39) sit al ’n maand lank by die Kuala Lumpur-lughawe in Maleisië gestrand. Huysamen en Nunn was onderskeidelik van Indonesië en Maleisië op pad na Suid-Afrika. Hul vlugte het by die Kuala Lumpur-lughawe gestop waar hulle met twee verskillende vlugte na Suid-Afrika toe sou vlieg. Hul vlugte is intussen gekanselleer.

Dié twee Suid-Afrikaners het lank op die lughawe oorgebly. “Ons het van die sitbanke teenaan mekaar gestoot om vir onsself ’n bed te maak om op te slaap. Dit was baie ongerieflik,” vertel Huysamen.

Dié twee het toe later oorgeskuif na die Sama Sama-transitohotel wat by die lughawe geleë is. Die hotel het sy oornagtariewe vir gestrande buitelanders aangepas sodat dit meer bekostigbaar is.

“Ons ervaar ’n warboel van emosies. Eers het ons gestres om ’n vlug terug huis toe te kry en later het ons begin aanvaar dat ons vir ’n hele ruk lank hier gaan moet bly en onsself net sowel kan tuismaak.”

Toergroep in Egipte is veilig tuis

Petrus en Magda Pretorius was deel van die toergroep wat van Egipte gerepatrieer is (Foto: Verskaf)

Maroela Media het vroeër berig oor ’n toergroep van ses Suid-Afrikaners wat lank in Kaïro in Egipte gestrand was. Ná 40 dae in Egipte is hulle Woensdag omstreeks 17:30 met ’n huurvlug van SAL teruggevlieg Suid-Afrika toe.

Magda Pretorius (28) en haar man, Petrus (28), asook Philip Jacobs (45), Melissa Schnettler (46), Andries van Heerden (41), Cathy van Heerden (32) en 20 ander Suid-Afrikaners het Donderdag omstreeks 01:30 in Johannesburg aangekom.

Dié groep is verlig en opgewonde om tuis te wees.

Hulle is tans in kwarantyn in The Capital-hotel in Melrose in Johannesburg. Volgens Petrus Pretorius vertoef hulle tot dusver baie gerieflik en word goed behandel.

“Ons is met ope arms in Suid-Afrika verwelkom,” vertel hy.

Die toergroep van Egipte is al veilig tuis (Foto: Verskaf)

Petrus en Magda Pretorius sê hulle sien daarna uit om hul twee kinders weer te sien. Die kinders het by hul ouma gebly het terwyl dié egpaar in Egipte gestrand was.

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) het ook op sy Twitter-blad aangekondig dat ʼn groep van 93 passasiers Dinsdag omstreeks 14:50 uit Saoedi-Arabië in Suid-Afrika aangekom het.

Bergman sê sowat 88 Suid-Afrikaners is die week van Pakistan gerepatrieer. Hy beweer ook gestrandes van Indië gaan binnekort teruggebring word.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Matewis ·

Ek het gemengde gevoelens as ek hierdie artikels lees. Ek was tot 23 Maart nog in Europa, ek het die Maandag oggend gesien dat die vlugte minder word en/of gekanselleer word. Ek het dadelik plan gemaak en was daardie aand 20:00 op ‘n vlug terug. My vakansie is kortgeknip en daar was kostes, maar ek het alles gedoen om by die huis te kom. Kon hulle nie ook sien die moeilikheid is oppad nie? Al die lande het mense tyd gegee om uit te kom so hoe nou?

Jaco ·

selfs sonder geld sal julle in SA aangerand en selfs vermoor word vir jou selfoon of die klere en skoene wat jy dra. BLY waar julle is. Dis 1000 maal veiliger daar as in SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.