Wildbewaarders in Nieu-Seeland het Woensdag geskarrel om ʼn gestrande walviskalf aan die lewe te probeer hou, terwyl vrywilligers steeds na dié se ma op soek is.
Die departement van bewaring het gesê die 2,5 m lange orka het Sondag op rotse noord van Wellington uitgespoel. Die skool walvisse waarmee hy saam rondbeweeg het, het kort daarna weggeswem.
Die bulkalf wat tussen vier en ses maande oud is, is nog afhanklik van sy ma se melk en kan nie alleen in die see oorleef nie.
Hy word intussen in ʼn tydelike omhulsel in die see by Plimmerton aangehou en word elke vier uur deur ʼn buis gevoer. Vrywilligers monitor hom ook dag en nag om te verseker dat hy nie weer op die rotse beland nie.
“Daar is nie ʼn fasiliteit in Nieu-Seeland wat op die lange duur na dié dier kan omsien nie, daarom is dit belangrik dat ons so vinnig as moontlik sy ma opspoor,” het Ian Angus, bestuurder van seelewe van die departement van bewaring, gesê.
Volgens Angus is ʼn grootskaalse soektog na die walviskalf se ma van stapel gestuur. Die publiek word ook aangemoedig om dit aan te meld indien hulle ʼn skool walvisse sien.
Vrywilligers het intussen die walviskalf Toa gedoop, wat krygsman in Maori beteken.
“Ten spyte daarvan dat Toa ʼn stresvolle ervaring deurgemaak het, is hy heel gesond. Orkas is redelik robuuste diere en gelukkig slaag ons daarin om hom te hidreer en versadig te hou.”
Orkas is glo ʼn algemene verskynsel in die omgewing van Wellington, hoewel hulle as ʼn bedreigde spesie in Nieu-Seeland gelys is. Daar is tussen 150 en 200 orkas in dié land se seegebied oor.
Ek dink Bolhuis is die oplossing. Sal Toa se ma sommer gou opspoor.
Die berig verwar my effens. Hoe op aarde sal mens weet wie die kalfie se ma is? Ek sal graag wil weet of daar merke op die kalfie is wat dieselfde as die ma is? Verskoon my onkunde. Al sien mens ‘n skool Orkas, hoe sal mens weet of die kalfie van daardie een af kom?