Gestremde 9-jarige vereer ná sy bababoetie se lewe red

Mike Savage, burgemeester van die Halifax-munisipaliteit, het Lexie Comeau-Drisdelle vir haar heldedaad vereer. Foto: Twitter via @MikeSavageHFX

ʼn Negejarige meisie van Nova Scotia, Kanada, wat met serebrale verlamming gediagnoseer is en nie kan praat of loop nie, word nou as ʼn heldin geloof nadat haar vinnige optrede haar 18 maande oue boetie se lewe gered het nadat die seuntjie in die gesin se swembad beland het.

Die voorval het reeds in Mei plaasgevind, maar eers onlangs aan die lig gekom en die wêreldmedia is aangegryp deur Lexie Comeau-Drisdelle se heldhaftige optrede.

Die familie was besig om gereed te maak vir Lexie se negende verjaarsdagpartytjie, terwyl haar boetie, Leeland, ook in die huis doenig was.

CTV News berig Lexie se ma, Kelly Jackson, was op die boonste verdieping van die huis besig, terwyl Lexie se ouma, Nancy Comeau-Drisdelle, ʼn oog oor Lexie en Leeland gehou het. Jackson het aan die nuusstasie vertel Comeau-Drisdelle het vir ʼn oomblik haar rug gedraai en Leeland het van die kans gebruik gemaak om by die agterdeur uit te glip.

Lexie het egter besef wat gebeur en dadelik probeer help op die enigste manier wat vir haar moontlik is – sy het so hard moontlik begin skree. Volgens Jackson het sy Lexie se gille op die onderste verdieping gehoor en onmiddellik gedink die dogtertjie het uit haar rolstoel geval.

Lexie het egter aanhou skree en vir haar ouma na die deur gewys. Comeau-Drisdelle het toe besef iets moet fout wees buite die huis.

Sy het uitgehardloop en vir Leeland in die swembad sien dryf. Sy het hom onmiddellik uit die water gehaal en noodhulp toegepas voordat hy na ʼn hospitaal gehaas is. Leeland het wonderbaarlik ongedeerd van die beproewing afgekom.

Mike Savage, burgemeester van die Halifax-munisipaliteit, het te hore gekom van Lexie wat haar kleinboet se lewe gered het en die gesin genooi om hom by sy kantoor te besoek. Daar het hy ʼn toekenning aan Lexie oorhandig om haar vir haar heldedaad te vereer. “Helde kom in alle groottes,” het Savage Woensdag getwiet, saam met ʼn foto van hom en Lexie.

Jackson het intussen aan CNN gesê sy wil graag bewusmaking skep rakende gestremdhede en meen dié voorval bewys: Net omdat mense nie kan praat nie, beteken dit nie hulle verstaan nie wat om hulle aangaan nie. “Sommige mense dink net omdat hulle ʼn gestremdheid het, kan hulle nie allerhande goed doen nie. Haar gestremdheid is net fisiek. Sy is ʼn baie skerpsinnige dogtertjie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

nannie ·

Baie dankbaar dat sy haar boetie se lewe gered het. God seen jou jonge dame.

Cornelius ·

Dis wonderlik. Bewus making oor cp is baie nodig. Gemeenskappe moet hande vat en ouers help wat gedruk gaan deur al die kostes wat so wonderlike kind ekstra het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.