‘Gevaarlike woonstelblok’ ontruim

Bayview 60 Homes (Foto: Julia Bagg, Twitter)

Inwoners van ’n vyfverdiepingwoonstelgebou in Noord-Miami Beach is beveel om die gebou te ontruim nadat amptenare die gebou as “struktureel onveilig” verklaar het.

The Guardian berig die Bayview 60 Homes was besig met sy 50ste hersertifisering. Dié proses is verpligtend vir die meeste nie-enkel-gesinstrukture reg oor die VSA wanneer die strukture 40 jaar oud word.

Die gebou is in 1972 gebou en bestaan uit 60 eenhede. Dit het sedert Julie herstelwerk ondergaan as deel van die hersertifiseringsproses.

CNN berig inwoners het Maandag die gebou begin ontruim nadat ’n ingenieur die eienaar van die gebou laat weet het dat daar ’n “defleksie” in die hoogte van die gebou se vloerblaaie is. “Defleksie” is ’n ingenieursterm wat beskryf hoeveel ’n sekere struktuur van vorm verander wanneer ’n las daarop toegepas word.

Inwoners kon Dinsdag na hul woonstelle terugkeer om kleiner items te gaan haal en sal van Vrydag af hul meubels kan verwyder.

Volgens die burgemeester, Anthony DeFillipo, het inwoners drie-dag-hotelbewyse gekry en die Miami-Dade Homeless Trust en die Amerikaanse Rooikruis sal help met behuising as hulle sukkel om verblyf te kry.

Die eienaar van die gebou het inwoners ook gerusgestel dat die huur vir Aprilmaand en sekuriteitsdeposito’s binne 72 uur terugbetaal sal word.

Dit is die tweede woonstelgebou in Miami wat die afgelope jaar ontruim moes word omdat dit struktureel onveilig vir inwoners was.

Maroela Media het vroeër berig van die 12-verdieping Champlain Towers South-gebou in Surfside wat in Junie verlede jaar ineengestort het en ongeveer 98 dood gelaat het. Die gebou was ten tyde van die voorval nog vroeg in sy hersertifiseringsproses.

Die Bayview 60 Homes-woonstelgebou is sowat 5 km van Champlain Towers South geleë.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Robert

Gelukkig het hulle betyds agter gekom dat daar probleme is!!!