Gevangene, beampte vermis

Casey White en Vicky White (Foto: Twitter)

Polisie in Alabama in die VSA is op soek na ’n ontsnapte gevangene en ’n korrektiewedienstebeampte wat saam met hom soos mis voor die son verdwyn het.

Casey White (38), wat teregstaan op moord, en korrektiewedienstebeampte Vicky White (56) is Vrydagoggend die laaste keer gesien. Ondanks die twee se ooreenstemmende vanne, is hulle nie verwant aan mekaar nie.

BBC berig Vicky het gesê sy neem Casey vir sielkundige evaluering, maar amptenare het later besef dié afspraak is nooit geskeduleer nie. Niemand kon tot dusver vir Vicky in die hande kry nie.

Owerhede is besig om vas te stel of Vicky die gevangene gehelp het om te ontsnap, en of hy haar dalk gyselaar geneem het.

Die polisie het die publiek gewaarsku dat Casey “uiters gevaarlik” is en vermoedelik  toegang tot die beampte se vuurwapen het.

Sky News berig ’n beloning van $10 000 (R159 891) word uitgeloof vir enigiemand met meer inligting oor waar die twee vermistes hulself moontlik bevind.

Volgens Lauderdale County se sheriff, Rick Singleton, het Vicky Donderdag haar aftreevorms ingedien. Sy is al sowat 25 jaar by die departement van korrektiewe dienste en is ʼn assistent-direkteur by die kantoor van die sheriff.

Vicky het die wet oortree deur die gevangene self na die hofgebou vir sielkundige evaluering te neem, aangesien iemand wat van ’n ernstige misdaad (soos moord) aangekla word, normaalweg deur twee beamptes vergesel moet word.

Vicky is glo verskeie kere as werknemer van die jaar aangewys en was ’n “pligsgetroue werknemer”, volgens Singleton.

White (38) is in September 2020 op twee aanklagte van moord aangekla nadat hy die 58-jarige Connie Ridgeway met ’n mes doodgesteek het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

piet ·

Nee wat, alles dui daarop dat sy hom help ontsnap het en saam met hom weggeloop het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.