Gevangene neem lewe midde regstryd oor doodstraf

Scott Raymond Dozier wat skuldig bevind is aan die moord op twee mense en die doodstraf opgelê is. Foto: Nevada Department of Corrections via AP (Argieffoto)

ʼn Veroordeelde moordenaar, wie se teregstelling keer op keer uitgestel is weens ʼn sloerende hofsaak oor die middels wat gebruik sal word, het sy eie lewe geneem.

Scott Dozier (48) is Saterdag dood in sy sel in Ely State Prison in Nevada in die VSA gevind. Volgens mediaberigte het hy ʼn laken gebruik om homself aan ʼn lugopeningspyp op te hang. Sy dood kom ses maande nadat sy teregstelling vir die tweede keer uitgestel is.

Dozier is in 2007 skuldig bevind aan die moord op die 22-jarige Jeremiah Miller, wie se liggaam hy in dele opgekap en in ʼn tas gebêre het. Hy is ook skuldig bevind aan nog ʼn moord in Arizona twee jaar vantevore en is gevolglik die doodstraf opgelê.

In 2016 het Dozier sy appèlaansoeke teen sy vonnis laat vaar en gesê hy is gereed om tereggestel te word. The Washington Post berig Dozier het destyds gesê hy sal eerder sterf aangesien die lewe in die tronk nie ʼn lewe is nie. “As mense sê hulle gaan my doodmaak, dan moet dit nou gebeur,” het hy gesê.

Sy teregstelling is egter gekniehalter deur ʼn hofsaak tussen die staat en farmaseutiese maatskappye wat nie wil hê hulle middels moet gebruik word om gevangenes tereg te stel nie.

Nevada Capital News berig Alvogen, die vervaardiger van midazolam, ʼn middel wat in kombinasie met twee ander middels gebruik word as deel van ʼn dodelike inspuiting vir teregstellings, het hulle tot die hof gewend om die gebruik van midazolam vir dié doeleindes te verhoed.

Nog twee farmaseutiese maatskappye het daarna met regstappe begin om die gebruik van hul middels ook te verhoed.

Volgens The Washington Post is Dozier se teregstelling vir die eerste keer in 2017 uitgestel nadat ʼn narkotiseur getuig het die gebruik van cisatracurium saam met die ander twee middels kan erge lyding vir die persoon veroorsaak aan wie dit toegedien word.

ʼn Foto van die teregstellingskamer by Ely State Prison in Nevada, VSA waar Scott Dozier sy eie lewe geneem het. Foto: Nevada Department of Corrections via AP (Argieffoto)

Volgens dié getuienis kan cisatracurium verlamming veroorsaak wat die tekens kan wegsteek dat die ander twee middels nie behoorlik werk nie. Die veroordeelde gevangene sal dus kan voel hoe hy besig is om te versmoor.

Nevada Capital News berig ʼn regter het op 10 Julie 2018 weer beslis dat Dozier se teregstelling eers uitgestel moet word terwyl die regstryd voortduur.

Die staat het aangevoer dat die maatskappye ʼn guerrilla-oorlog teen die doodstraf voer.

The Washington Post berig Dozier is in daardie tyd in isolasie geplaas om te verhoed dat hy sy eie lewe neem – sogenaamde “suicide watch”. Sy regspan het later ʼn aansoek gebring om hierdie besluit te laat ophef en gesê die isolasiebestaan veroorsaak fisiese en verstandelike lyding vir Dozier.

Dozier het talle kere ’n beroep op die staat gedoen om die teregstelling af te handel en het gedreig dat hy sy eie lewe sal neem as dit nie vinnig genoeg gedoen word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Deon ·

Selfmoord van krimineel in VSA nie nuuswaardig vir my in RSA nie.

JAN ·

Probeer weer oor selfmoord.
Googloer Nongwasi propaganda.
Vergelyk met Ons Volkie x 50 jaar
(tronk = sanksies)

alwyn burger ·

In sy sel . In die teregstellingkamer. Het hy twee keer selfmoord gepleeg !?

PJC ·

Hierdie is die tipe behandeling wat ek dink elke moordenaar verdien.

christa ·

op laas is hy dood. Net makliker as wat sy slagoffer gehad het. Hoekom stry hoe hy moet sterf? wat ook roete ook al gekies word sal nog makliker wees as wat sy slagoffer moes deurmaak

At Dippenaar ·

Maroela daar is seker meer interressante internasionale nuus as die ou kleinigheidjie. Sulke artikels mors ons data,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.