Gevangenes bevry toe aanvallers tronkhek oopbreek

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

ʼn Groep gewapende mans het Woensdag ʼn tronk in Mexiko binnegeval en nege gevangenes bevry.

Twee polisiebeamptes is ook tydens die voorval in Tula in die sentrale Hidalgo-staat beseer. AFP berig die aanvallers het die tronk met voertuie binnegedring en met die gevangenes weggery.

Luidens berigte is die betrokke gevangenes lede van ʼn bende wat by brandstofdiefstal, ontvoerings en afpersing betrokke is. ʼn Polisiebron wat verkies om anoniem te bly sê die doel van die stormloop was glo om die vermeende stigter van ʼn bendegroep met die naam Pueblos Unidos te red.

Die aanvallers het ʼn motor elders in die stad ter afleiding opgeblaas waarna hulle ʼn ongespesifiseerde voertuig gebruik het om die tronkhek oop te breek.

Mexiko word lank reeds deur ʼn vlaag van geweld geteister wat met georganiseerde misdaad verband hou. Volgens amptelike statistieke is meer as 300 000 moorde sedert Desember 2006 aangeteken, toe die federale regering ʼn omstrede teendwelmoperasie in samewerking met die weermag van stapel gestuur het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Baans ·

Met ons moordsyfer op oor die 50 moorde per dag is ons nie vêr agter Mexiko nie.

Swartskaap ·

Baans jy is heeltemaal korrek. Mexico se moorde per dag werk uit op +- 54 per dag.

pompies ·

Vervang net die woord Mexico met SA en die statistiek is presies dielfde asook die misdade.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.