ʼn Gewapende inbreker is op Kersdag op die terrein van Windsor-kasteel betrap en in hegtenis geneem. Koningin Elizabeth II en ander lede van die Britse koningshuis was besig om daar Kersfees te vier.
Volgens die nuuskanaal CBS het polisiebeamptes gereageer op inligting oor ʼn inbraak by die kasteel om 08:30 plaaslike tyd. Volgens superintendent Rebecca Mears van die Teemsvallei-polisie het beamptes “enkele oomblikke ná die inbraak” gereageer.
“Die verdagte, ʼn 19-jarige man van Southampton, het toe nog geen geboue betree nie. Hy is tans in aanhouding en die ondersoek duur voort,” berig CNN.
Die polisie glo nie die man hou ʼn gevaar vir lede van die publiek in nie.
Dit is nie die eerste keer dat iemand dit regkry om by die koningin se woning in te breek nie. In 1982 het Michael Fagan bekendheid verwerf nadat hy dit reggekry het om by ʼn venster van die Buckingham-paleis in te klim en verby wagte te glip om tot reg in die koningin se kamer te sluip. Hier het hy die gordyne voor haar kamervenster oopgetrek en met haar begin gesels.
Die koninklike gesin bring gewoonlik Kersfees saam met uitgebreide familie by Sandringham in Berkshire deur, maar het weens die verspreiding van Covid-19 besluit om dit vanjaar eerder by Windsor-kasteel te vier.
Die koningin het wel haar jaarlikse Kersboodskap gelewer, waartydens sy verwys het na haar groot verlies weens die dood van haar geliefde man, prins Philip, wat in April vanjaar in die ouderdom van 99 oorlede is.
“Hoewel daar vanjaar een bekende stem minder om ons Kerstafel is, sien ons opnuut die wonder van Kerstyd deur die oë van die kinders, van wie ons hierdie jaar vier bygekry het,” het die koningin in haar roerende boodskap gesê. “Hulle leer ons almal ʼn waardevolle les: In die geboorte van ʼn kind breek daar ʼn nuwe dag met oneindige potensiaal aan.”