Gewapende man naby VSA kongresgebou in hegtenis geneem

Streng veiligheidsmaatreëls heers in die omgewing van die Amerikaanse kongresgebou in Washington. (Foto: Andrew Caballero Reynolds/AFP)

ʼn Man met ʼn gelaaide handwapen en meer as 500 patrone is in Washington by ʼn padblokkade naby die Amerikaanse kongresgebou in hegtenis geneem, het owerhede gesê.

Wesley Allen Beeler, ʼn inwoner van Virgini, het Vrydagaand deur die veiligheidspunt gery en ʼn nagemaakte bewys van identiteit gebruik om toegang te probeer kry tot die gebied waar die aangewese pres. Joe Biden volgende week ingehuldig word, lui die hofdokumente.

Terwyl beamptes die man se besonderhede op ʼn lys nagegaan het, het een van hulle plakkers agterop Beeler se bakkie opgemerk wat onder meer lui “Assault Life”, met ʼn beeld van ʼn wapen, en nog een met die boodskap “If they come for your guns, give ’em your bullets first”.

Tydens ondervraging het Beeler aan beamptes gesê hy het ʼn Glock-handwapen in die voertuig. ʼn Deursoeking het dié wapen opgelewer, asook meer as 500 patrone, haelgeweerdoppies en ʼn magasyn vir die vuurwapen, lui die hofdokumente voorts.

Beeler is in hegtenis geneem op aanklag van die besit van ʼn ongeregistreerde vuurwapen en die onwettige besit van ʼn vuurwapen.

Beeler het ná sy inhegtenisneming gesê hy het ʼn “eerlike fout” gemaak en is ʼn private veiligheidswag wat naby die kongresgebou op pad werk toe verdwaal het.

Washington is op ʼn gereedheidsgrondslag voor Woensdag se inhuldigingseremonie nadat ʼn skare mense op 6 Januarie die kongresgebou bestorm het. Vyf mense, onder wie ʼn polisiebeampte, is in die oproer dood.

Veiligheidsbeamptes het gewaarsku dat pro-Trump-ekstremiste, moontlik met plofstof, ʼn bedreiging vir Washington en ander state se hoofstede kan inhou.

Duisende soldate van die nasionale wag is in Washington ontplooi en die strate is met betonversperrings toegemaak.

Die gedeelte van die gebied waar duisende mense elke paar jaar saamkom om na die president se inhuldiging te kyk, is nou op versoek van die geheime veiligheidsdiens – wat die veiligheid van die president moet verseker – as verbode vir lede van die publiek verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hennie ·

Nee regtig julle raak pateties, die man is al klaar weer vry gelaat omdat hy die waarheid gepraat het en daar aan diens is,
Julle onderrok begin uitsteek

Cherokee ·

‘Beeler is in hegtenis geneem op aanklag van die besit van ʼn geregistreerde vuurwapen en die onwettige besit van ʼn vuurwapen.’
Huh? Wat sê julle eintlik?
Indien dit ‘n geregistreerde vuurwapen is wat nie aan hom behoort nie (my beste raaiskoot), sê dan so.

Christel Cornelissen ·

Dagsê Cherokee
Baie dankie vir jou boodskap. Daar het ‘n fout in die berig ingesluip wat sedertdien reggestel is.
Groetnis
Christel
nms. Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.