Gewelddadige betogings in Zim terwyl op uitslag gewag word

Foto: AP Photo/Mujahid Safodien

Honderde woedende opposisie-ondersteuners het Woensdag na die verkiesingskommissie in Zimbabwe se kantoor opgeruk.

Polisiebeamptes het die skare met traangas onder beheer probeer bring terwyl daar gewag word op die uitslag van Maandag se verkiesing – die eerste sedert die bedanking van pres. Robert Mugabe.

Die Europese Unie se verkiesingswaarnemers het “ernstige bekommernisse” uitgespreek rakende die verkiesingsproses. Volgens die EU-waarnemingsmissie het die verkiesing nie “’n werklik gelyke speelveld bereik nie” en was daar “misbruik van staatshulpbronne, gevalle van dwang en intimidasie, partydige gedrag deur tradisionele leiers en openlike vooroordeel in staatsmedia”.

Foto: AP Photo/Mujahid Safodien

Die verkiesingskommissie het intussen gesê hy sal teen Donderdag kan bekend maak wanneer die uitslae van die verkiesing amptelik bekend gemaak sal word.

Die regerende Zanu PF het ʼn meerderheid setels in die parlement gewen, het die verkiesingskommissie wel bekend gemaak.

Die opposisie MDC beweer reeds daar was onreëlmatighede. Ondersteuners van die opposisie het klippe buite die verkiesingskommissie se kantoor gegooi en advertensieborde met die gesig van pres. Emmerson Mnangagwa (75) afgebreek. Mnangagwa, ʼn voormalige bondgenoot van Mugabe in die regerende Zanu-PF, het oorgeneem ná Mugabe bedank het.

Foto: AP Photo/Mujahid Safodien

Mnangagwa se regering het Nelson Chamisa (40), opposisieleier, en sy ondersteuners daarvan beskuldig dat hulle geweld aanhits deurdat hulle verklaar het dat Chamisa, ʼn prokureur en pastoor, die verkiesing gewen het.

Die verkiesingskommissie het vyf dae tyd om die finale uitslag bekend te maak.

Prof. Theo Neethling, ʼn politieke ontleder aan die Universiteit van die Vrystaat, het vroeër aan Maroela Media gesê hy glo daar bestaan ʼn moontlikheid dat dit die eerste verkiesing in dié land kan wees waar nie een party ʼn volstrekte meerderheid kan behaal nie.

Foto: AP Photo/Mujahid Safodien

“Met Mugabe uit die weg, was daar in die afgelope tyd duidelike spanning in die Zanu-PF tussen veral die Generasie40-groep, wat Grace Mugabe tot onlangs ondersteun het, aan die een kant en die Lacoste-groepering, wat Mnangagwa ondersteun het. Terselfdertyd was die MDC-alliansie ook nie sonder interne spanning en verdelings nie.

“Volgens meningspeilings wat deur Afrobarometer uitgevoer is, is Zanu-PF net ʼn kortkop voor die MDC-alliansie en het laasgenoemde Zanu-PF in die jongste verlede ingehaal . Die peilings dui daarop dat die MDC-alliansie in die stedelike areas die botoon gaan voer – soos in die verlede – met Zanu-PF wat in die platteland sterk steun geniet.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anoniem ·

‘n Towerstaffie en toe is 37 jaar se skade van M U G A B E uitgewis ! Wensdenkery, want dit gaan nog 37 jaar spook by Verkiesings !! Wat Jy gesaai het sal JY maai of Jy nou hou daarvan of NIE !!!!

willie ·

Afrika verstaan nie van hierdie proses van demokraties verkiesing nie, veral die leiers self! Hier by ons geld dieselfde, want ons is deel van Afrika! Tragies

Ella ·

Darem eienaardig dat Afrika nie geld het vir opbou en onderhoud maar daar is altyd geld vir wapens en ammunisie en traanrook en skokgranate.
Live by the sword, die by the sword se die spreekwoord.
En dan wil die minister he ons moet leer by Zim. Wat wonder ek.
Hier kan ons n textbook skryf oor verkiesing en skarebeheer en onluste plus al die ander dinge waaroor ons so trots is.

christa ·

geweet die opvolger is nes Mogabe, net soos CR zuma se opvolger dieselfde is. Hulle sal lieg en bedrieg vir status.

HPV ·

Maar net nog ‘n “vry en regverdige verkiesing” in ‘n Afrika derde wêreld. Gaap…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.