Gewese Trump-prokureur kry drie jaar

Michael Cohen verlaat die hof in New York waarin hy drie jaar tronkstraf opgelê is. Foto: ANA

ʼn Hof in New York het pres. Donald Trump se gewese persoonlike prokureur drie jaar gevangenisstraf opgelê vir sy rol in swygbetalings aan twee vroue en omdat hy vir die Kongres gelieg het oor ʼn voorgestelde Trump Tower-projek in Rusland.

Michael Cohen het Woensdag gesê hy aanvaar verantwoordelikheid vir sy misdade, “ook dié waarin die president van die Verenigde State van Amerika geïmpliseer word”. Terwyl hy skuldig gepleit het, het hy aan aanklaers gesê Trump het hom aangesê om die geld te betaal om die vroue sover te kry om te swyg, berig Deutsche Welle.

“Dit was my werk om duistere dade toe te smeer,” het hy ter strafversagting in die hof getuig. Hy het bygevoeg “blinde lojaliteit” aan Trump “het my op ʼn weg van duisternis pleks van lig gelei”.

Cohen het in Augustus daaraan skuldig gepleit dat hy kort voor die verkiesing waarin Trump president geword het, die pornografiese aktrise Stormy Daniels sowat R1,8 miljoen betaal het en ʼn betaling van sowat R2,1 miljoen gereël het vir die voormalige Playboy-model Karen McDougal sodat hulle sou swyg oor hul verhouding met die getroude Trump, berig Al Jazeera. Trump ontken die verhoudings.

Cohen het skuld erken op ʼn onverwante aanklag van belastingontduiking en dat hy vals verklarings teenoor banke afgelê het.

Aanklaers het gesê die betaling van swyggeld het wetgewing rakende verkiesingsfinansiering oortree en het Cohen se weergawe aanvaar dat Trump opdrag vir die betalings gegee het, wat die president impliseer in ʼn moontlike oortreding van verkiesingsfinansieringswetgewing.

Trump se regsverteenwoordiger, Rudy Giuliani, voer aan die swyggeldbetalings kan nie as oortredings van veldtogfinansieringsbepalings beskou word nie omdat dit gedoen is om Trump se aansien te beskerm; dus sou dit gedoen gewees het selfs al was hy nie ʼn presidentskandidaat nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

John ·

Hilarious…. en oupa met die oumans-oopmond…. se plannetjies loop mooi en die Duitse-vervolger s’n ok… Binnekort is Trump weg en onse bedjies terug in onse Withuis waar die rooi knoppie langs die tandeglasie pryk. Die soekende vingers… of die kat… want Navo… wag vir die boodskap: Gee die manne warm skokolade en probeer tog weer om in die winter vir Moskou ‘n lessie te leer… Ons het nou al die skatte van Afganistan en Irak, bring nou St Petersburg s’n…

John ·

Dieselfde Al Jazeera wat op youtube as fake bewys word nes cnn. Neewat “void” artikel.

Melania ·

Lol jy moet maar jou mond gehou het, dalk het jy tronkstraf vrygespring. Toe gaan gooi jy jouself voor ‘n bus net om Trump te benadeel . oops ..

Hans ·

So kom die waarheid maar een of ander tyd uit. Lekker duur snuifies gewees!!

Gert ·

Dan noem Trump homself n President en wil hy maak en breek soos hy wil!! Geld wat krom is maak reg wat stom is!! Dit is siek om te dink so iemand lei n land soos Amerika.

Cherokee ·

Daais nog nìks! Kyk wie lei ‘n land soos Suid Afrika.

Johan H. ·

Almal het en maak foute, maar dis belangrik om nie aan tehou daarmee nie… Ek persoonlik like ou trumpie, hy skut die hok lekker!

nico k ·

Ek het nog altyd gesê Trump is net ‘n showman. Hy sal soos Carter as een van die swak presidente in die geskiedenis onthou word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.