Gewilde YouTube-ma tronk toe oor kindermishandeling

Ruby Franke (42) sal minstens vier jaar lank in die tronk sit nadat sy haar kinders mishandel het. (Foto: Instagram / Moms of Truth)

ʼn Amerikaanse ma van ses wat gereeld ouerskapswenke op ʼn gewilde YouTube-kanaal uitgedeel het, is vandeesweek minstens vier jaar tronkstraf vir ernstige kindermishandeling opgelê.

Aanklaers het in die hof in Utah aangevoer die haglike omstandighede waarin Ruby Franke (42) minstens twee van haar kinders “aangehou het”, kan met dié van konsentrasiekampe vergelyk word. Franke het in Desember verlede jaar skuld beken op vier aanklagte van ernstige kindermishandeling en is Dinsdag tot ʼn minimum van een jaar en ʼn maksimum van 15 jaar op elk van die vier aanklagte gevonnis.

Franke se sakevennoot, Jodi Hildebrandt (54), wat sy as haar mentor bestempel het, het dieselfde vonnis gekry.

Die YouTube-ma het in 2015 gewildheid begin verwerf toe sy en haar man, Kevin, die kanaal “8 Passengers” (wat intussen verwyder is) begin het. Dié kanaal, wat in ʼn stadium meer as twee miljoen volgelinge gelok het, het wenke oor ouerskap gebied en die gesin se alledaagse Mormoonse familielewe gevolg.

Agterdog begin

Ruby Franke het skuldig gepleit op al vier aanklagte van kindermishandeling teen haar. (Foto: Skermskoot / Youtube)

Aanhangers het egter in 2020 agterdogtig geraak toe een van Franke se seuns gesê het dat hy vir sewe maande gedwing is om op ʼn boontjiesitsak te slaap.

Al hoe meer vrae het in dié tyd ontstaan oor die oënskynlik omstrede strafmaatreëls waaraan die Franke-kinders onderwerp is, onder meer om kos en water van die kinders te weerhou, Kersfees te “kanselleer” en die kop van ʼn sagte speelding af te kap.

Die kommer het uiteindelik tot ʼn petisie gelei wat duisende mense onderteken het. Die petisie het by owerhede gepleit om ondersoek te doen na wat werklik in die Franke-huishouding aangaan.

Franke en haar man het die kritiek teen hulle verwerp en aangevoer dat van hul video’s “uit verband geruk” is. Die kanaal se gewildheid het begin taan en dit is in 2022 van YouTube verwyder.

Toe Franke en Kevin later daardie jaar geskei is, het Franke kragte met Hildebrandt, ook ʼn YouTuber, saamgespan om verdere raad en wenke uit te deel en lewensafrigting aan aanhangers te bied. Hildebrandt het hierdie kanaal, ConneXions Classroom, bestuur. Sy het ook haar eie webwerf gehad.

Ruby Franke se Instagram-profiel wat sy saam Jodi Hildebrandt bestuur het.

Die twee het ook ʼn Instagram-profiel, “Moms of Truth”, bestuur met meer as 300 000 volgelinge.

Agter die skerms het Franke se kinders egter ernstige fisieke en emosionele mishandeling deur Franke en Hildebrandt verduur.

Die oudste seun het in Augustus verlede jaar die moed bymekaargeskraap om uit Hildebrandt se huis te ontsnap en die hulp van ʼn buurman te ontbied. Hy het die buurman gevra om die polisie te bel, en ook vir kos en water gesmeek, aldus BBC News.

Kevin en Ruby Franke saam met hul kinders. (Foto: Instagram / Moms of Truth)

Volgens polisierekords het die kind verskeie merke aan sy liggaam gehad waar hy met toue vasgebind was.

Die twee vroue is kort daarna in hegtenis geneem.

“Die hemel weet hoe lank hulle nog in daardie situasie sou kon oorleef,” het Eric Clarke, Utah-staastsaanklaer, gesê.

Clarke het verder aangevoer dat Franke en Hildebrandt twee van die Franke-kinders, toe nege en 11 jaar oud, in ʼn “konsentrasiekampagtige omgewing” aangehou het.

“Die kinders is gereeld kos, water, beddens om in te slaap en feitlik alle vorme van vermaak geweier.

“Hulle is van ander geïsoleer en is weggesteek toe mense die huis besoek het.

Jodi Hildebrandt en Ruby Franke het verskeie video’s saam opgeneem. (Foto: Skermskoot / Connexions-webtuiste)

“Hulle is ook gedwing om handearbeid buite in die uiterste somerhitte te doen, soms sonder skoene of sokkies,” het die aanklaer gesê.

“Albei kinders het uitgebreide fisieke beserings weens hul mishandeling opgedoen wat hospitalisasie vereis het.”

Hildebrandt het self erken dat sy Franke se kinders mishandel het, of bewus was van die mishandeling wat plaasgevind het. Sy het gesê sy het Franke se dogtertjie gedwing om “herhaaldelik in ʼn kaktus te spring” as straf. Die kinders is by erkenning ook gemartel, geskop en geslaan.

Volgens Clarke is Franke se kinders ook emosioneel mishandel, “op so ʼn wyse dat elkeen tot ʼn mate geglo het hulle verdien wat aan hulle gedoen word”.

Jodi Hildebrandt en Ruby Franke is tot minstens vier jaar tronstraf gevonnis vir kindermishandeling. (Foto: Instagram / Moms of Truth)

Franke het onder meer aan haar kinders gesê hulle is “boos en besete en moet hulself bekeer”. Dié inligting is in ʼn pleitooreenkoms vervat.

Franke ‘jammer’ oor leed aan kinders

Franke het tydens haar vonnisverhoor voor regter John Walton om verskoning gevra vir haar optrede.

“Ek is gelei om te glo dat hierdie wêreld ʼn bose plek is, gevul met polisiebeamptes wat beheer, hospitale wat beseer, regeringsinstansies wat breinspoel, kerkleiers wat lieg en begeer, mans wat weier om te beskerm en kinders wat mishandeling nodig het,” het sy gesê.

Volgens Franke het haar “paranoia” op misdaad uitgeloop waarvoor sy nou ten volle aanspreeklikheid aanvaar.

“Met groot spyt en diep berou vir my familie en kinders, pleit ek skuldig.

Ruby Franke (42) sal minstens vier jaar lank in die tronk sit nadat sy haar kinders mishandel het. (Foto: Instagram / Moms of Truth)

“Ek sal nooit ophou huil vir die leed wat ek hul sagte siele aangedoen het nie. My bereidwilligheid om alles vir julle op te offer is op ʼn meesterlike manier in iets baie lelik gemanipuleer. Ek het julle ontneem van alles wat sag, veilig en goed was,” lui die berig deur die Britse koerant Independent.

Haar kinders was egter nie by die vonnisverhoor teenwoordig nie.

Deur sy prokureur het Kevin die hof gevra om die maksimum vonnis aan sy gewese vrou en Hildebrandt op te lê. Hy het glo vir 13 maande geen kontak met sy kinders gehad nie, en was na bewering onbewus van enige mishandeling.

Franke en Hildebrandt sal ʼn minimum van vier jaar tronkstraf uitdien, maar hul presiese tronkstraf sal deur die Utah-paroolraad bepaal word.

  • Bronne: AFP, Independent, BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sêmanet ·

Sy is jammer. Ja net omdat sy uitgevang is. Dit sou nie ophou nie. En nou is die Pa ook nog “onskuldig”. Hy moet ook dieselfde straf kry. Waar hy opgehou het, het die ander vrou oorgeneem.

Republikein in die Wes Kaap ·

Wag totdat sy uit die tronk kom. Dán gaan die dollers inrol.

Karoo ·

Nou ja toe…. nog ‘n Pa…. wat kamstag van NIKS weet nie. Hy sou seeker in maand 14 van weerhouding van sy kinders agterdogtig geraak het en ondersoek laat instel het. Sy het net skuldig gepleit…. om’ n amper geen vonis te kry vs. die lang baklei en baie lager vonis. Slim vrou…. dom Man.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.