Gholfspeler, akteur in botsing wat een eis

Bill Haas (Foto: Facebook)

Minstens een mens is Woensdag om middernag dood in ʼn noodlottige botsing in Los Angeles waarby die Amerikaanse gholfspeler Bill Haas en akteur Luke Wilson betrokke was.

Fox News berig die bestuurder van ʼn Ferrari, wat glo teen ʼn hoë spoed gery het, het kort voor die botsing beheer oor die voertuig verloor waarna dié sportmotor teen twee ander voertuie gebots en toe teen ʼn boom tot stilstand gekom het.

Volgens ʼn verklaring van die Los Angeles-polisie is die bestuurder van die Ferrari op slag dood terwyl Haas, ʼn passasier in die Ferrari, na die hospitaal gehaas is.

Volgens mediaberigte is ʼn 50-jarige vrou, wat met die derde voertuig gereis het, ook in die ongeluk beseer nadat haar motor weens die slag van die botsing omgeslaan het. Dié vrou is glo steeds in ʼn ernstige toestand in die hospitaal terwyl Haas laat Woensdagaand ontslaan is.

Luke Wilson (Foto: Facebook)

Volgens CNN het die voertuig waarmee Wilson gereis het nie dieselfde trefkrag beleef nie. Die akteur het geen beserings opgedoen nie.

Sean Heirigs, ʼn omstander op die toneel, het aan die tydskrif People gesê Wilson het die vrou glo onmiddellik te hulp gesnel. “Die vrou se been was vasgeknyp tussen die stuurwiel en die paneelbord. Sy het om hulp geskree en was baie ontsteld. In ʼn stadium het hy gesê ons moet haar onmiddellik uit die voertuig help omdat hy rook ruik en bang is die motor slaan aan die brand. Ons kon haar later deur die agterruit van die voertuig uittrek en het haar op die sypaadjie neergelê terwyl nooddienste op pad was,” het hy gesê.

Haas het al ses toernooie van die PGA-gholftoernooi gewen. Hy het hom glo aan vandeesweek se Genesis Ope in Los Angeles onttrek.

Wilson het nie gereageer op die Amerikaanse media se versoek vir kommentaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hartseer en trots ·

Mens is hartseer dat mense wat goed doen en baie geld het, nie kophou. Dan is jy bly om te hoor ‘n ander wat goed doen Luke Wilson, wat kalm bly en ander te hulp snel en planne maak om ‘n lewe te red. Ek hoop ons sportsterre en bekendes lees en neem in, dit kan so maklik gebeur, jy kan hoe goeie bestuurder wees, elkeen kan ‘n glips maak en sal jy reg wees met joune (alkohol gebruik en nakom van pad reels)

Rupert Ashford ·

Korreksie Maroela: Bill Haas het al 6 toernooie in die Amerikaanse PGA reeks gewen in su loopbaan. Hy het nie die Amerikaanse PGA toernooi (een van golf se groot 4) al 6 keer gewen nie. Ek twyfel of selfs Jack dit 6 keer kon wen.

Tania Heyns ·

Dagsê Rupert Ashford

Dankie vir jou kommentaar, ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

corc ·

Die spreekwoord se meer haas minder spoed, lyk my hier was die teenoorgestelde in werking baie spoed en minder haas. n Vrou vir die res van haar lewe geskend deur een onbedagsame bestuurder wat nie die krag en spoed van n Ferrari kon beheer nie, so tragies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.