Gimnasium-brand: Dodetal styg

Polisiebeamptes staan wag voor die verwoeste gebou in Jecheon, Suid-Korea nadat die vlamme geblus is (22 Desember 2017). Foto: Suh Myung-gon/Yonhap via AP

Die dodetal van die brand wat Donderdag ʼn fiksheidsentrum in Jecheon in Suid-Korea verwoes het, het gestyg.

Plaaslike media berig minstens 29 mense het in die brand gesterf. Die getal beseerdes het ook gestyg nadat 26 mense na hospitale gehaas moes word om vir onder meer rookinaseming behandel te word.

Maroela Media het vroeër berig die brand het by ʼn motor begin wat op die eerste verdieping geparkeer was en het vinnig deur die agtverdiepinggebou versprei. Volgens ʼn beampte van die plaaslike brandweer is die meeste oorledenes in die sauna van die fiksheidsentrum aangetref.

Die brand het omstreeks 15:53 plaaslike tyd uitgebreek. Ongeveer 50 brandweerwaens, talle brandbestryders en minstens twee helikopters is ontplooi om mense uit die brandende gebou te red. Die brand is teen 17:40 geblus en brandbestryders kon begin om na oorlewendes in die smeulende gebou te soek.

Brandbestryders het nog liggame binne die gebou gevind waar daar verskeie restaurante, ʼn swembad en binnenshuise gholffasiliteite was.

Jecheon is suidoos van die hoofstad, Seoel, en is ʼn gewilde stad vir besoekers wat die berge en mere in die omgewing wil besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.