Hamas maak aanspraak op ‘n oorwinning na die aankondiging van ‘n skietstalstand sonder sperdatum, maar waarnemers wys daarop dat nie Israel of die Palestyne uit die ooreenkoms gekry het wat hulle wou nie.
Israel was waarskynlik onder druk om tot die skietstilstand in te stem voor die skole heropen. Sowat 100 vuurpyle per dag het voor die skietstilstand oor Israel se grens gekom, en inwoners moes kort-kort in bomskuilings gaan skuil.
Hamas grond sy aansprake vir ‘n oorwinning daarop dat die ooreenkoms vae versoeke aan Israel rig om die streng isolasie van Gasa effens te verslap. In Hamas se propaganda sedertdien word die geringe toegewings – dieselfde as wat met die skietstilstand van 2012 gegeld het – egter as reuse konsessies en die eerste stap tot groter dinge beskryf.
Die asem word nou opgehou dat die skietstilstand genoegsaam sal kan hou dat daar in vrede oor uitstaande kwessies beraadslaag kan word.
Hamas se aandrang op ‘n seehawe en ‘n lughawe, sal saam met Israel se aandrang dat Gasa gemilitariseer word op die agenda bly. Ook die uitruil van die oorskot van Israelse soldate vir Palestyne wat deur Israel aangehou word, moet nog uitgepluis word.
Die sekretaris-generaal van die VN, Ban Ki-moon, het gewaarsku dat die grondoorsake van die konflik aangespreek en opgelos moet word om ‘n blywende oplossing te vind. Hy het gemeld dat die blokkade van Gasa opgehef en Israel se eise vir veiligheidsoorwegings opgelos moet word.
Bronne: New York Times, Christian Science Monitor, De Standaard