“Ons is minder magteloos as wat ons dink,” sê Nederland se koning Willem-Alexander (51) in sy Kerstoespraak.
Anders as sy ma, koningin Beatrix, het hy politieke vraagstukke vermy, byvoorbeeld klimaatsverandering, berig die dagblad Trouw.
Die koning het sy toespraak met ʼn persoonlike inleiding begin toe hy sy volk gevra het hoe húlle die Kerstyd beleef. “Miskien is dit juis moeilike dae omdat u eensaam voel. Of omdat u iemand verskriklik mis wat u sielsgraag by u sou wou gehad het. Ek en my vrou weet wat u deurmaak.”
Daarmee het koning Willem-Alexander onder meer verwys na die verlies die afgelope jaar deur selfdood van koningin Máxima se jonger suster, Inés Zorreguieta (33).
Wie die nuus volg, se moed sak soms in hul skoene.
Kersfees doen ʼn beroep op ons geloof in die godsdienstige sin, het hy gesê, maar ook op ons geloof in onsself, in mekaar en in ʼn gelukkige en vreedsame toekoms. “Dit is nie aldag maklik om aan dié geloof vas te hou nie. Wie die nuus volg, se moed sak soms in hul skoene.”
Maar kan dit nie wees dat ons ons eie rol onderskat nie, wou die koning weet. Hy het die woorde aangehaal van Eleanor Roosevelt, die krag agter die Universele Verklaring van Menseregte: “Waar begin menseregte? Op plekke na aan die huis, so naby en so klein dat hulle op geen kaart sigbaar is nie.”
Hy het verduidelik dat Roosevelt ʼn regstreekse verband gesien het tussen die straat waarin ʼn mens woon en die grote wêreld. “Vryheid, gelykheid en billike kanse vir elkeen is ook afhanklik van die manier waarop ons daagliks met ons medemens omgaan.
Ons is minder magteloos as wat ons dink.
“ʼn Lewe sonder angs en onverskilligheid word nie net bepaal aan verre vergadertafels nie, hoe onmisbaar dit ook al is. Gelukkig neem ons ook self daaraan deel. Ons is minder magteloos as wat ons dink.”
Aktiewe burgers kan baie vir mekaar beteken, het hy gesê oor die indrukke wat hy kry op sy besoeke aan alle dele van Nederland.
Samewerking ondanks verskille is die goue draad wat deur die hele Nederlandse geskiedenis loop. “Die Nederlandse norm is dat ons mekaar en die gemeenskap se belange op die hart dra. Dat ons saamwerk en gee en neem. Ons mag dié norm nie laat vervaag nie. Dit is van onskatbare waarde en lei steeds weer tot wonderlike nuwe inisiatiewe.”
Hy meen ʼn mooi toekoms is moontlik, “mits ons vashou aan ons geloof in onsself en in mekaar”.