Globale ekonomiese groei vir 2019 op skamele 3% voorspel

ekonomie-stockfoto

Argieffoto

Wêreldwye ekonomiese groei word in ʼn projeksie van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) op 3% vir 2019 voorspel, die swakste koers sedert 2008.

Die projeksie is Dinsdag bekend gemaak waarin die voorspelling ook 0,3 persentasiepunte onder die IMF se April-raming vir vanjaar se wêreldgroei is.

Die IMF het in sy Wêreldekonomiese Vooruitskouing, ʼn halfjaarlikse verslag deur die fonds, gesê die afname word grootliks veroorsaak deur handelsgeskille. Die vinger kan ook na Brexit gewys word.

Gita Gopinath, hoofekonoom van die IMF, het tydens ʼn mediakonferensie by die IMF se hoofkantoor in Washington gesê indien daar nie tot ʼn ooreenkoms teen die 31 Oktober-sperdatum gekom kan word nie, verwag die IMF dat die Britse ekonomie ʼn afname van 3 tot 5% oor drie jaar sal toon, na gelang van hoe ontwrigtend Brexit is.

Die projeksie voorspel wel ʼn styging in wêreldwye groei tot 3,4% in 2020. Dit weerspieël hoofsaaklik ʼn verwagting van verbetering in die ekonomiese prestasie van ontluikende markte in Latyns-Amerika, die Midde-Ooste en opkomende en ontwikkelende markte in Europa.

“Met ʼn gesinkroniseerde verlangsaming en ʼn onsekere herstel, bly die vooruitsigte wêreldwyd gevaarlik,” het Gopinath in die verslag gesê.

“Met ʼn groei van 3% is daar geen ruimte vir beleidsfoute nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johanna Botha ·

Daar is net teveel mense op die aarde dalk is laer groei beter

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.