Gloeiende masker wys Covid-19-besmetting

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Yasuyoshi Chiba/AFP)

Japannese wetenskaplikes het ʼn kleurstof ontwikkel wat op gesigmaskers gespuit word en gloei wanneer dit met die koronavirus in aanraking kom. Dié vindingryke vloeistof is met behulp van volstruise se teenliggaampies gemaak.

Die span kundiges van die Kyoto-universiteit in Japan het onlangs die fluoorkleurstof gemaak om enige Covid-19-partikels wat aan ʼn masker klou onder ultravioletlig uit te wys, berig Daily Mail.

Die kleurstof bestaan uit teenliggaampies wat uit volstruiseiers onttrek word wat dan met die stekelproteïen van die koronavirus reageer en die vloeistof aktiveer.

In ʼn klein studie deur Yasuhiro Tsukamoto, hoofwetenskaplike en president van die Kyoto-universiteit, het deelnemers vir agt uur ʼn masker gedra voordat die filter verwyder is. Die filters is met die vloeistof gespuit en onder ultravioletlig geplaas om te sien of Covid-19 teenwoordig is.

Diegene wat ʼn masker gedra en die virus onder lede gehad het, se masker het veral om die neus en mond gegloei, het die navorsers bevind.

“Hierdie nuwe vloeistof is ʼn baie vinniger vorm van toetsing as ʼn PCR-toets,” het Tsukamoto aan VICE World News gesê.

Tsukamoto hoop dat die vloeistof as ʼn persoonlike Covid-19-toetsstel gebruik kan word vir diegene wat in lande woon waar hulle gereeld maskers in die openbaar moet dra. Dit kan ook help om asimptomatiese draers van die virus op te spoor wat hulle nie sommer sal laat toets nie, juis omdat hulle gesond voel.

Die navorsers hoop dat hulle die kleurstof só kan ontwikkel dat dit outomaties gloei sonder spesiale beligting. ʼn LED-lig van ʼn slimfoon kan ook in plaas van ʼn ultravioletlig gebruik word om die virus op die masker op te spoor.

Die gebruik van volstruise vir navorsing

Tsukamoto, wat al vir langer as twee dekades volstruise navors, het talle studies gelei waarin die natuurlike eienskappe van volstruise benut word.

Hy het voorheen, met behulp van volstruise se teenliggaampies, maskers gemaak wat mense teen varkgriep beskerm en produkte geproduseer wat met haargroei help.

Volgens Tsukamoto het sy mees onlangse skepping hom laat besef dat hy self Covid-19 opgedoen het.

“Ek het ʼn masker gedra en later met die kleurstof gespuit om dit te toets. Dit het begin gloei nadat ek dit onder ʼn ultravioletlig gesit het. Ek het ʼn PCR-toets gaan kry en het toe inderdaad positief getoets vir Covid-19,” sê hy.

Om die masker te maak het Tsukamoto se span onaktiewe Covid-19-deeltjies in volstruiswyfies ingespuit. Hulle het toe die teenliggaampies uit die eiers wat die volstruise later gelê het, onttrek, aangesien teenliggaampies deur die eiergeel na die nageslag oorgedra word.

Tsukamoto sê volstruiseiers was veral nuttig in die studie omdat dit byna 24 keer groter is as dié van ʼn hoender.

“Dit laat meer ruimte toe vir teenliggaampies om te vorm en dit gebeur ook aansienlik vinniger.” Dit neem volstruise slegs ses weke om eiers te lê in vergelyking met hoenders wat eers ná 12 weke eiers lê.

Die onttrekking van diere se teenliggaampies vir wetenskaplike navorsing word reeds jare lank as ʼn vorm van mishandeling bestempel omdat verskeie diere dikwels erg onder hierdie prosedures ly.

Tsukamoto hou egter vol dat sy volstruise geensins mishandel word in die proses om hierdie gloeiende kleurstof te vervaardig nie.

“Ek is ʼn veearts, so dit sal ondraaglik vir my wees om enige dier opsetlik seer te maak,” sê hy.

Anders as die proses om teenliggaampies van knaagdiere of konyne te neem, wat dikwels vereis dat die diere doodgemaak word, verwyder Tsukamoto net teenliggaampies van onbevrugte eiers wat in ieder geval nooit sou uitbroei nie.

Hy sê sy proses vereis net dat hy ʼn volstruis ʼn enkele dosis van die onaktiewe koronavirus gee.

“Geen diere word in die proses mishandel of doodgemaak nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Porseleintjie ·

Hoeveel snert wil hulle nog aan die mensdom afsmeer?

Toy ·

Ek sit geen masker op wat gespuit word met iets, vertrou dit gladnie. Nog iets om in te asem wat nie goed is nie.

Miskruier ·

Nog meer rommel vir moeder aarde, teen die.tyd kan ons mos maar sonder maskers rondloop. Omnicron is n gewone griep virus.

Pietertjie ·

Ek sou graag eers ‘n proefbuisie met die SARS-COV-2 isolaat in wil sien, soos wat ek in Virologie op universiteit geleer het. Sodat navorsers daarmee kan werk. Hoekom kon niemand nog met so-iets vorendag kom nie?

Vettiemaragartos ·

Gee die mense krediet! Hulle het ‘n masker ontwerp wat so slim is dat hy, nog voor jy weet, vir jou wys dat jy die virus het!!! Whahahaha wat dink hulle is ons IK?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.