G’n ‘groot drie’ rampspoedig vir Aus Ope

Novak Djokovic tydens die Australiese Ope vroeër vanjaar. (Foto: Patrick Hamilton/AFP)

Die Australiese tennisspeler Nick Kyrgios het Woensdag gesê dit sal ʼn ramp wees as die sogenaamde “groot drie” van tennis – Roger Federer, Rafael Nadal en Novak Djokovic – nie aan die Australiese Ope deelneem nie.

Kyrgios het ook dié drie aangespoor om alles moontlik te doen om by die toernooi aan te sluit.

Federer het hom reeds aan die Ope onttrek weens ʼn kniebesering en Nadal se planne is nog nie bekend gemaak nadat hy Covid-19 opgedoen het nie.

Hoewel Djokovic op die inskrywingslys vir die eerste Grand Slam van die jaar is, wat oor minder as drie weke begin, weier hy steeds om te bevestig of hy wel teen die koronavirus ingeënt is. Dit wek groot twyfel ​​of hy gaan opdaag.

Maroela Media het vroeër berig dat Australië toegang vir alle tennisspelers wat nie teen die virus ingeënt is nie, sal weier. Sedertdien krap die tennisgemeenskap kop daaroor of Djokovic wel aan die Ope sal kan deelneem.

Federer, Nadal en Djokovic het elk 20 Grand Slam-titels agter hul naam, maar Kyrgios meen dat die sport en die toeskouers hulle steeds volgende maand in Melbourne nodig het.

“As al drie nie daar is nie, sal dit ʼn ramp wees,” het Kyrgios gesê. “Dit sal rampspoedig wees vir die lojale ondersteuners van die sport en diegene wat net tennis geniet.

“Dit is natuurlik ʼn goeie geleentheid vir sommige van die jonger ouens om deur te dring en nuwe hoogtes te bereik, maar as geheel het ons hulle steeds nodig om deel van die sport te wees.”

Om die Australiese Ope se ellende te vererger, het Dominic Thiem laat Dinsdagaand gesê hy sal hierdie byeenkoms moet misloop weens ʼn gewrigbesering. Thiem het tydens die vorige eindstryd teen Djokovic verloor.

Intussen herstel die Russiese wêreldnommervyf Andrey Rublev en Kanada se Denis Shapovalov ook van die koronavirus.

Die Australiese Ope begin op 17 Januarie op Melbourne Park.

Kyrgios, wat tot 93 in die wêreldranglys gedaal het, het weens ʼn kniebesering nog nie sedert die Laverbeker in September gespeel nie. Hy het Woensdag gesê dat hy daarna uitsien om weer voor sy tuisondersteuners te speel.

“My knie is iets wat my loopbaan nou al ʼn ruk lank belemmer, maar dit voel tans goed,” het hy gesê.

“Ek wil die lewe geniet, ek wil gelukkig wees – dit is wat belangrik is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.