G’n plek vir muis op vliegtuig, in hotel terwyl Swift-koors hoog loop

Taylor Swift op die verhoog tydens ‘n optrede van haar Eras-toer. (Foto: Twitter/@taylorswift)

Sogenaamde “Swift-koors” het Suidoos-Asië getref en omdat die wêreld se grootste popster, Taylor Swift, slegs in Singapoer gaan optree – wat ʼn enorme bydrae tot dié land se toerismebedryf gaan lewer – het dit sommige van sy buurlande rooi laat sien.

Meer as 300 000 aanhangers van die stadstaat – en sy buurlande – sal van 2 tot 9 Maart die Amerikaanse superster se ses uitverkoopte Eras Tour-vertonings by die Nasionale Stadion bywoon.

Ingrid Delgado, ʼn aanhanger van Manila wat na Singapoer vir die vertoning gaan reis, sê sy het ʼn “nuwe glinsterrok” vir die geleentheid gekoop, maar sukkel om plek in ʼn bekostigbare hotel te vind.

“Baie van die hotelle was reeds vol bespreek, so ek moes by ’n duurder hotel bespreek,” het sy gesê.

Fullerton Hotels and Resorts, sowel as die Fairmont Hotel, het aan AFP gesê die vraag na kamers gedurende die konserttydperk het drasties toegeneem.

Diegene met diep sakke het Marina Bay Sands se luukse pakkette gekoop; dit is genoem na Swift se trefferliedjies soos “Shake it Off” en “Stay Stay Stay”.

Die hotel se “Wildest Dreams”-pakket van SG$50 000 (sowat R720 000) sluit BBP-kaartjies, smaaklike etes, ʼn hotelkamer, limousine-ritte en kaartjies na toeriste-aantreklikhede in.

Die hotel het aan AFP gesê al hierdie pakkette is uitverkoop.

Singapore Airlines en Malaysia Airlines sê ook daar was ʼn groter vraag na Singapoer-vlugte, maar die rederye kon dit nie dadelik of uitsluitlik aan “Swift-koors” toeskryf nie.

ʼn Groot aantal Maleisiese Swifties, soos haar aanhangers bekend staan, sal die naburige Singapoer vir die konserte besoek.

“Dit is ʼn droom wat bewaarheid is. Ek voel opgewonde en senuweeagtig,” sê Harith Arsat, ʼn 20-jarige student wat sy eerste oorsese reis van Kuala Lumpur af onderneem.

In die Filippyne het die laekosteredery Cebu Pacific sy gewone vlugnommer vir Singapoer-vlugte vir die tydperk 1 tot 9 Maart na “1989” verander; dit is die jaar waarin Swift gebore is en die titel van haar vyfde album.

Rooi tapyt

Nie almal was gelukkig toe Swift se enigste stop in Suidoos-Asië aangekondig is nie, onder andere aanhangers en regerings in sommige van Singapoer se buurlande. Om na Singapoer te reis is vir baie mense in die streek weens die wisselkoers onbekostigbaar, en dan word daar nie eens gepraat van buitensporig duur hotelpakkette nie.

Sommige was ook ongelukkig omdat Singapoer ʼn toelae verskaf het om Swift se rekordtoer vir die stadstaat te verseker.

Amptenare van die departement van kultuur en Singapoer se toerismeraad, met verwysing na sakevertroulikheid, het verlede week geweier om te sê hoeveel betaal is, en of ʼn eksklusiwiteit-ooreenkoms onderteken is om Singapoer Swift se enigste stilhouplek in die streek te maak.

Dit het gevolg op berigte dat premier Srettha Thavisin aan ʼn sakeforum in Bangkok gesê het dat Singapoer inderdaad só ʼn ooreenkoms aangegaan het.

Die Singapoer-amptenare het nie Srettha se kommentaar regstreeks hanteer nie, maar gesê dat Swift se vertonings “waarskynlik aansienlike voordele vir die Singapoer-ekonomie sal inhou”.

Singapoer het sedert die opheffing van inperkingsmaatreëls ná die Covid-19-pandemie die rooi tapyt vir baie internasionale kunstenaars uitgerol, onder andere Blackpink, Harry Styles en Ed Sheeran.

Coldplay het ses uitverkoopte vertonings in Januarie agter die rug en komende optredes sluit in Bruno Mars, Sum 41 en Jerry Seinfeld.

“Singapoer het sy grense vinniger as ander lande begin oopmaak ná die pandemie en die vinnigspring-voordeel en gesamentlike pogings om byeenkomste aan te bied, het gehelp,” het Song Seng Wun, ekonomiese adviseur vir CGS International, aan AFP gesê.

“Daardie momentum is besig om op te bou.”

Moenie met skelmstreek gevang word

Miljoene aanhangers het verlede jaar, toe kaartjieverkope oopgestel is, geskarrel om dit in die hande te kry. Dit het gelei tot ʼn toename in aanlyn swendelary wat op desperate Swifties gerig is.

Die polisie in Singapoer het selfs ʼn video op sosiale media gedeel met die waarskuwing “moenie vinnig geld verloor nie; koop jou kaartjies veilig”.

Ongeag die gevare, het Ericko Dimas Pamungkas (25) in Jakarta met drie toestelle aangemeld om ʼn kaartjie-rynommer te kry.

“Ek was baie gelukkig. Hierdie konsert is een van my belangrikste oomblikke,” het hy gesê.

Swift het van ʼn sanger met besonderse lirieke in ʼn slim sakevrou en die wêreld se grootste popster ontwikkel, en aanhangers glo daar is baie om by die 34-jarige te leer.

“Ek waardeer Taylor se openhartigheid en waarvoor sy staan ​​soos regte, vrygewigheid en deernis,” sê Spencer Ler, ’n Singapoerse vlieënier wat 22 uur lank in die ry gestaan ​​het om kaartjies vir sy dogter en haar vriendinne te koop.

“Dit is iets waaruit die meisies kan leer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

Is daar iets verkeerd met my? Ek sal my huis verkoop om John Mayer in Singapoer, of enige plek te gaan sien!

Bolandse Nooi ·

Ag nee, o heiden hert, ek dink nie eens die dame kan sing nie!

Shakespeare ·

Swift word totaal buite verhouding opgehemel. Gaan my verstand te bowe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.