Goedere vernietig in brand by Beitbrug-grenspos

Beitbrug-grenspos Foto: newzimbabwe.com

Beitbrug-grenspos Foto: newzimbabwe.com

Goedere ter waarde van tot $5 miljoen (ongeveer R55 miljoen) is vernietig tydens ʼn brand by die doeanestoor aan die Zimbabwiese kant van die Beitbrug-grenspos.

Die brand het Donderdagmiddag omstreeks 17:00 uitgebreek in ʼn gebou wat gekonfiskeerde goedere soos televisiestelle, komberse en kruideniersware gestoor het, het die Chronicle-koerant in Zimbabwe Vrydag berig.

“Goedere ter waarde van $5 miljoen is vernietig,” het Talent Munda, woordvoerder vir die burgerlike beskermingseenheid by die grenspos, aan die koerant gesê. “Ons weet nog nie wat die oorsaak van die brand is nie. Niemand was in die gebou toe die brand uitgebreek het nie en die gebou was gesluit.”

Volgens Munda was meeste van die goedere wat in die brand vernietig is, gesmokkelde items en goedere waarop die Zimbabwe-belastingowerheid (Zimra) beslag gelê het. “Niks het die brand deurstaan nie. Alles is tot as verbrand.”

Die voorval is ʼn teken van die grens se gebrek aan gereedheid vir brande, alhoewel dit die besigste kruising in sub-Sahara Afrika is. Beitbrug het nie ʼn brandweerstasie nie en die National Oil Company of Zimbabwe moes die brandweerwaens stuur. Brandweerwaens is ook van Musina oor die grens gestuur.

Maroela Media het vroeër vandag berig Thinus Becker (54), ʼn sakeman van Randhart in Alberton, was vir langer as vier ure by die Beitbrug-grenspos vasgekeer nadat daar volgens hom “absolute chaos” was om mense vir ebola te toets voor hulle Suid-Afrika van Zimbabwe af kan binnekom. Klik hier om meer te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.