Goeie nuus: Enigiemand kan ʼn verskil maak!

Tommy Kleyn gooi brood vir die voëls om vir hulle te sê hy is nie 'n bedreiging nie Foto: Tommy Kleyn, Facebook

Tommy Kleyn gooi brood vir die voëls om vir hulle te sê hy is nie ‘n bedreiging nie Foto: Tommy Kleyn, Facebook

ʼn Man wat daagliks verby ʼn besoedelde waterfront gery het, het besluit om nie net bloot op sosiale media daaroor te kla nie, maar daadwerklik iets daaraan te doen.

Tommy Kleyn van Nederland het elke oggend die gemors gesien wanneer hy met sy fiets by die rivier verbygery het. Dit is hoofsaaklik plastiek en plastieksakke wat daar uitspoel. “Die vullis het my só geïrriteer, dat ek besluit het om dit op te tel,” het Kleyn verduidelik. Ná 30 minute, het hy een vullissak volgemaak. “Maar een sak maak nou nie juis ʼn verskil nie. Ek het onderneem om elke dag, wanneer ek daar verbyry, ʼn sak vol te maak.”

Kleyn het uiteindelik die foto’s op Facebook gelaai en gou het sy vriende ook ingespring en hom begin help. “Die gebied is langs ʼn fietspad, en mense het gesien dis ʼn uitstekende veldtog en het ook besluit om te help.”

Kleyn sê hy hoop om mense te inspireer om jaarliks net een vullissak rommel op te tel. “Dit neem net 30 minute en jy sal verbaas wees hoe goed jy na die tyd voel!” het hy gesê.

Die betrokke gedeelte van die rivier is nou skoon en voëls het selfs weer daar begin nes maak.

Intussen het Kleyn op sy Facebook-blad aangedui ‘n gemeenskap in Denemarke het ook van die projek te hore gekom en besluit om ‘n strand skoon te maak. Hulle het reeds 950 kg opgetel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Delia ·

Dankie, goeie nuus so tussen al die slegte goetters deur……gee my moed om te sien daar is nog goeie goed wat gebeur in ander lande.

ladybug ·

So man inspireer my ook sommer om self in Benoni se vuil strate te begin gemors opruim en van die onkruid ontslae te raak!

Dudette ·

Hierdie is ‘n inspirasie vir vele. Mens kan skole nader om parke of mere “aan te neem” . Dit sal mense weer ‘n gevoel van trots in ons omgewing gee.

goggie ·

Maak n “clean up South Africa day” (meer as een n jaar vir die vuil land sal gehou moet word) en dat almal voor hul huise en besighede, parke en oral vullis optel. Dis al hoe die land (en selfs die strande) skoon sal kom as die publiek inspring, want werkers vir daai job….hulle is nie meer nie.

Eliza-beth ·

Inspirerende storie! As elke ou wat hier lees sy voorbeeld volg, dink net hoe dit sal uitkring en hoe ons weereens ‘n mooi en skoon land kan word! Ek tel gereeld op hier op ons Estate – ampers onbegonne taak want dis nie die wat hier woon wat mors nie, maar nou-ja… iemand moet dit doen. As elkeen net om homself sal skoonhou kan dit werk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.