Goeie nuus: Kelnerin se gebaar maak opslae op sosiale media

Die nota wat Debbie Davis Riddle op Facebook geplaas het. Foto: Facebook

Die nota wat Debbie Davis Riddle op Facebook geplaas het. Foto: Facebook

ʼn Amerikaanse kelnerin se goedheid teenoor ʼn egpaar wat hul baba verloor het, het onlangs soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei.

Fox News berig Debbie Davis Riddle van Fort Worth in Texas het op haar Facebook-blad vertel hoe sy en haar man, Shaun, gereeld by die West Side Cafe gaan eet het. In Mei het die egpaar hul pasgebore baba, Glory, saamgeneem na die restaurant.

Toe die twee in Junie weer daar gaan eet, het ʼn kelnerin, Kayla Lane, hulle onthou en gevra hoe dit met Glory gaan. “Ongelukkig moes ons haar vertel Glory is oorlede en is nou by God,” het Riddle op haar Facebook-blad gesê. Sy het gesê sy kon agterkom die kelnerin het aaklig gevoel omdat sy gevra het.

Nadat die egpaar hul ete geniet het, het hulle in plaas van die rekening ʼn handgeskrewe nota ontvang wat gelees het: “Jul rekening is reeds betaal. Ons is so jammer vir jul verlies. God seën julle – The West Side.”

Die Riddle-egpaar en die kelnerin, Kayla Lane (regs). Foto: Facebook

Die Riddle-egpaar en die kelnerin, Kayla Lane (regs). Foto: Facebook

Fox News berig Riddle was so deur die nota aangeraak dat sy ’n foto daarvan op 4 Junie op Facebook gedeel het. Haar inskrywing is sedertdien 10 296 keer gedeel en 1 453 mense het daarop kommentaar gelewer. Talle media-instellings van regoor die wêreld het ook oor die kelnerin se onbaatsugtige gebaar berig.

Lane het intussen ʼn foto van haar en die egpaar op Facebook geplaas en gesê hoewel sy vir hul ete betaal het, het sy dit nie gedoen om erkenning te ontvang nie.

“Ek wou bloot die tevredenheid hê om vir hierdie familie ʼn helpende hand te wees in ʼn tyd van diepe hartseer. Ek het nooit verwag dat hul familie vir my so ’n seën sou wees nie. Hulle geloof was ooglopend en dit het my só inspireer. Die stortvloed positiewe woorde en die ketting van liefde wat deur hierdie storie begin is, is meer as wat ek ooit kon verwag en dit maak my so gelukkig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Peet Schabort ·

Vertrou dat diegene wat geldmal is en sover as moontlik selfs op ander sal trap vir selfverryking hier sal lees en effens sal nadink oor hulle selfsugtige bestaan op hierdie aarde.

Plankies ·

Knop in die keel en trane in my oge. Dis nou ‘n hartseer maar mooi storie.

Heidi ·

Pragtige storie! Tonne blessings vir die egpaar sowel as die kelnerin. Ons het meer mense soos sy nodig in die wereld…

CHRISTA ·

Dis dalk hoekom ons landsburgers oorsee verhuis – dit lyk of mense meer vir mekaar daar omgee. Is dit nie hartseer dat ons mense deesdae so gevoelloos is nie?

Carl ·

Goeie storie en wys net die mensdom is nie heeltemal so sleg soos in die media voorgestel word nie. Christa ek dink nie die tipe ding gebeur net oorsee nie. Daar was ‘n ruk terug ‘n goeie nuus storie oor die kelner by Wimpy wat die gestremde kliënt so goed behandel het. Gaan kyk na die vrou se werk http://www.girlwithcake.co.za/ of selfs die http://www.netwerk24.com/nuus/2015-06-12-kaalbas-lucky-n-nuwe-mens

Ons moet die goed raak sien in ons eie land, almal wil net die sleg voor hou en daar is baie. Maar moenie jou self indoen nie :-)

Joe ·

100% reg, dis die verskil tussen SA en die ontwikkelde lande, daar word menselewens nog gerespekteer.

sanet ·

Ja nee. Wens die mense in die land was ook so. My hart gaan uit na die 2 mense. Dit baie hartseer om kind te verloor. Ek weet, ek is ook daardeur.

magriet ·

hoekom kan sulke soortgelyke stories nie eerder koerante se voorblaaie versier nie. In SA of as dit dan moet Amerika ook

Marie ·

Well done, Kyla Lane!! You don’t have to say anything, but let what you do, show who and Who’s you are!!
Pragtige gebaar ! Woorde wek maar dade trek!! Ek glo daar was ‘n groot glimlag van bo uit die hemel op hierdie jonge dame !!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.