Goeie nuus vir bruid met kanker ná verrassingstroue

Wyatt en Liza Heaton Foto: Mary Ann Elston via 11alive.com

Wyatt en Liza Heaton Foto: Mary Ann Elston via 11alive.com

Liza Heaton (25) van Louisiana in Amerika wat ongeveer ʼn week gelede in kennis gestel is dat sy binne ʼn maand sou sterf, het nou goeie nuus ontvang.

Ná drie jaar in remissie het die seldsame kanker, sinoviale sarkoom, teruggekeer en ʼn gastro-intestinale obstruksie het haar verhinder om behandeling te ontvang, berig NBC News.

Meer as 100 van Liza se vriende het egter ná die slegte nuus dadelik ingespring en saamgespan: in plaas van ʼn lewende gedenkdiens vir Liza, het hulle haar troue in die geheim gereël! Liza en Wyatt, haar kêrel, het vlugtig die moontlikheid vir ʼn troue bespreek toe hulle op Dankseggingsdag die slegte nuus ontvang het. Maar dokters het haar verlede week eers laat weet daar is baie min tyd oor.

Die twee is Saterdag by familie van Liza se huis in Cross Lake getroud.

En toe kom die goeie nuus: presies een dag ná die troue het die obstruksie wat die behandeling verhoed het, opgeklaar. Onkoloë het ʼn chemoterapie-pil voorgeskryf wat die gewasse moontlik kan verhoed om te vergroot. “Die pil kan moontlik die gewasse keer en dan kan Liza dalk binnekort behandeling begin ontvang,” het Michelle Haynie, Liza se ma, aan NBC News gesê. “Die chemo-pil kan dalk selfs die gewasse verklein!”

Die Haynie-gesin het intussen met ʼn GoFundMe-veldtog begin om geld in te samel vir die “Love for Liza”-fonds, om verdere navorsing te doen oor die seldsame kanker. Binne 24 uur is bykans $200 000 ingesamel.

Liza het gesê sy hoop haar verhaal sal ander persone met ʼn negatiewe prognose inspireer om sterk te bly en te bly hoop. “Miskien verander dit, en as dit nie verander nie, geniet wat jy het,” het sy gesê. “Geniet elke oomblik wat jy oor het.”

Lees die volle verhaal en kyk nog foto’s: NBC News (11alive) en Daily Mail

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.