Golden Globes 2022: Hier is die wenners

Die Australiese aktrise Nicole Kidman het vanjaar die Golden Globe-toekenning gewen vir beste aktrise in ‘n drama vir haar rol in die fliek ‘Being the Ricardos’. Hier is sy in Desember 2021 op die première van die rolprent by die Academy-museum in Los Angeles. (Foto: Valerie Macon/AFP)

Ten spyte van die donker wolk wat oor die Hollywood Foreign Press Association en gevolglik die Golden Globe-toekennings se koppe hang, is dié gesogte rolprent- en televisiepryse Sondagaand by die Beverly Hilton-hotel in Beverly Hills, Kalifornië, uitgedeel.

Die geleentheid het sonder enige gehoor of regstreekse mediadekking voortgegaan en die wenners is onder meer op Twitter aangekondig.

Die rolprent The Power of the Dog is as beste dramarolprent aangewys en West Side Story as beste musiekblyspel.

Nicole Kidman en Will Smith het onderskeidelik die beeldjies vir beste aktrise en akteur in ʼn drama ontvang vir die rolprente Being the Ricardos en King Richard. Smith vertolk die rol van die tennissterre Venus en Serena Williams se pa, Richard, in dié biografiese rolprent. Dit is Smith, wat ses keer tevore vir ʼn Golden Globe benoem is, se eerste toekenning.

Will Smith verlede jaar op die tapyt in Londen vir die première van ‘King Richard’, waarin hy die hoofrol van Richard Williams vertolk. Hy het die Golden Globe vir beste akteur in ‘n drama ingeoes vir dié rol. (Foto: Daniel Leal/AFP)

Rachel Zegler en Andrew Garfield is onderskeidelik as beste aktrise en akteur in ʼn musiekblyspel vir hul rolle in West Side Story en Tick, tick… Boom aangewys.

The Power of the Dog se Jane Compion is as beste regisseur aangewys en Belfast se Kenneth Branagh het die toekenning vir beste draaiboek ingeoes.

Encanto is as beste geanimeerde rolprent aangewys en Billie Eilish se “No time to die”, wat deur Eilish en haar broer, FINNEAS, geskryf is vir die James Bond-fliek No Time to Die, is as beste liedjie in ʼn rolprent aangewys.

Die Hacks-ster Jean Smart is as beste aktrise in ʼn televisiereeks, musiekblyspel of komedie aangewys, terwyl Jason Sudeikis as beste akteur in dié kategorie gekies is vir Ted Lasso.

Rachel Zegler is aangewys as beste aktrise in ‘n musiekblyspel vir haar rol in Steven Spielberg se ‘West Side Story’. Hier is sy in Desember 2021 op die première van die fliek by die El Capitan-teater in Los Angeles. (Foto: Valerie Macon/AFP)

In die televisiedrama-kategorieë is Succession as beste drama aangewys, met die akteur Jeremy Strong wat as beste akteur aangewys is.

Pose se Michaela Jaé (MJ) Rodriguez het geskiedenis gemaak deur die eerste trans-aktrise te wees wat ʼn Golden Globe wen vir haar rol in dié reeks.

Kate Winslet het die prys vir beste aktrise in ʼn beperkte reeks gewen vir Mare of Easttown en O Yeong-Su is as beste akteur in ʼn ondersteunende rol vir Squid Game aangewys.

Hier is ʼn volledige lys van 2022 se wenners.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marius ·

Sonder ‘n lewendige gehoor is enige top toekening maar afgewater.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.