‘Golden State Killer’ beken skuld

Joseph James DeAngelo tydens Maandag se verhoor. (Foto: AP Photo/Rich Pedroncelli)

Die voormalige polisiebeampte wat verbind word met ʼn reeks moorde en verkragtings wat in die 1970’s en 1980’s in Kalifornië in die VSA gepleeg is, het Maandag skuld beken op verskeie aanklagte.

Dié misdade is destyds toegeskryf aan die handewerk van die moordenaar bekend as die “Golden State Killer”.

Die 74-jarige Joseph James DeAngelo het Maandag in ʼn rolstoel in ʼn saal in Sacramento verskyn op 13 aanklagte van moord en verskeie aanklagte van verkragting en roof.

DeAngelo het ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan om die doodstraf vry te spring.

Die verhoor het weens die Covid-19-pandemie in ʼn saal by die Sacramento State University plaasgevind sodat slagoffers en die families van slagoffers dit kon bywoon terwyl sosiale afstand steeds gehandhaaf word.

Joseph James DeAngelo tydens Maandag se verhoor. (Foto: AP Photo/Rich Pedroncelli)

“Daar is geen ooreenkoms [tussen die destydse moordenaar] en die ou man wat vandag voor ons gesit het nie,” het een van DeAngelo se slagoffers, Gay Hardwick, ná die verhoor gesê.

Maroela Media het vroeër berig DeAngelo is in 2018, 40 jaar nadat die eerste moorde gepleeg is, in hegtenis geneem nadat die polisie hom met minstens 12 moorde, 45 verkragtings en talle inbrake in Kalifornië in die 1970’s en 1980’s kon verbind.

Die eerste moorde het in 1978 plaasgevind toe Brian en Katie Maggiore doodgeskiet is terwyl hulle met hul hond in Rancho Cordova gestap het. Talle ander moorde het daarna gevolg namate “The Golden State Killer” sy skrikbewind voortgesit het. In 1986 het die moorde egter eensklaps opgehou.

DNS-bewyse wat destyds op die misdaadtonele gevind is, het die reeksmoorde, inbrake en verkragtings met mekaar verbind, maar die polisie kon nie ʼn verdagte in hul ondersoeke identifiseer nie.

Die misdade het dekades lank ʼn raaisel gebly met geen teken dat die polisie ooit sou vasstel wie verantwoordelik was nie.

Polisiebeamptes het uiteindelik DeAngelo met die misdade verbind deur ʼn gevriesde DNS-monster te vergelyk met inligting op ʼn stamboomwebwerf waarop mense hul herkoms kan naspeur.

DeAngelo sal na verwagting in Augustus gevonnis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Heinrich ·

Liewer laat as nooit! Bly om te sien geregtigheid geskied nog.

marius ·

Die beste straf vir so iemand is om hom vir ‘n verdere 74 jaar aan die lewe te hou .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.