Google, Facebook onthul plan oor nuwe datakabel

Argieffoto (Foto: Michal Jarmoluk/Pixabay)

Google en Facebook het Maandag planne onthul vir ʼn nuwe ondersese internetkabel wat Singapoer, Japan, Guam, die Filippyne, Taiwan en Indonesië sal verbind.

Die kabelprojek, wat as Apricot sal bekendstaan, strek oor sowat 12 000 km en sal van 2024 in werking wees, onderworpe aan regulatoriese goedkeuring, het die maatskappye in afsonderlike verklarings gesê.

Die projek sal “broodnodige internetkapasiteit en betroubaarheid verskaf om verbindings in die Asië-Stille Oseaan-streek uit te brei”, het Facebook-ingenieur Nico Roehrich gesê.

“Die Apricot-kabel is deel van ons voortgesette poging om ons wêreldwye netwerk-infrastruktuur uit te brei en die meer as 3,5 miljard mense om die wêreld heen, wat elke maand van ons dienste gebruik maak, beter te kan bedien,” het Roehrich bygevoeg.

Die maatskappye het vroeër vanjaar ʼn ander kabelprojek, genaamd Echo, aangekondig. Dié kabel verbind die VSA, Singapoer, Guam en Indonesië.

“Die Echo- en Apricot-kabels is komplementêre ondersese stelsels wat beter voordele sal bied met verskeie roetes in en uit Asië, insluitend unieke roetes deur suidelike Asië,” het Google Cloud se adjunkpresident, Bikash Koley, gesê. “Dit verseker ʼn beduidende hoër graad van weerstandigheid vir Google Cloud en digitale dienste. Saam sal hulle ondernemings in Asië beter bandwydte bied en beter weerstandigheid in hul verbinding met Suidoos-Asië, Noord-Asië en die VSA.”

Google en Facebook het vanjaar pogings opgeskort oor ʼn beplande ondersese kabel wat Kalifornië met Hongkong sou verbind, weens spanning tussen die VSA en China.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hennie J ·

Is dit nou regtig nuuswaardig? As dit n berig was oor die patetiese vodacom wat hulle sein, waarvoor ek ten duurste betaal, gaan verbeter, dan sou ek se dit is nuuswaardig!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.