Google Streetview-bylmoord opgelos

Foto: Google Streetview

Foto: Google Streetview

ʼn “Bylmoord” wat deur die Google Streetview-voertuig afgeneem is, is uiteindelik deur die polisie opgelos.

Google se Streetview-foto’s van die straat in Edinburgh in Skotland wys duidelik ʼn jong man met ʼn byl in die hand wat oor die “lewelose” liggaam van sy slagoffer staan voordat die moordenaar die toneel verlaat.

Die polisie is gevra om die foto’s te ondersoek nadat ʼn Google-gebruiker ʼn klag ingedien het.

Dit het egter vinnig aan die lig gekom dat Dan Thomson (56), die ‘slagoffer’, en sy kollega Gary Kerr (31), almal net ʼn poets gebak het. Thomson, die eienaar van Thomson Motor Company in Gilesweg, het die Google Streetview-voertuig sien naderkom en toe inderhaas besluit om met behulp van sy werktuigkundige die “moord” vir die kamera te pleeg.

Die foto’s is al in Augustus 2012 geneem, maar dit is eers laat in 2013 op Google gelaai. Die twee het eers van die foto’s onthou toe nog ʼn kollega dit op Streetview raakgesien het. Dié persoon was egter nie die enigste een wat dit gesien het nie, want die polisie het uiteindelik aan die deur kom klop.

“Ek was baie benoud, want ek wou nie die polisie se tyd mors nie,” het Thomson aan die Edinburgh Evening News gesê. “Ons het verduidelik wat ons gedoen het, en hulle het gelukkig gedink dit is baie snaaks.”

Klik hier om die reeks foto’s op Google self te sien.

Klik hier om die berig op Edinburgh Evening News te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

HEVW ·

Tragies. In Skotland is dit n speletjie. Hier is dit n grusame werklikheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.