Graan van Oekraïne stort weer op Poolse treinspoor

Boere betoog in Krakow, Pole (20 Februarie 2024) (Foto: Klaudia Radecka/NurPhoto/NurPhoto via AFP)

Graan van Oekraïne is op ʼn treinspoor in Pole gestort – naby aan die twee lande se grens, het die polisie Vrydag gesê. Dit is die tweede soortgelyke voorval vandeesweek tydens betogings deur ontstoke boere.

“Ons is omstreeks 08:30 in kennis gestel van graan wat uit twee treinwaens gestort het in Okopy Kolonia naby Dorohusk,” het polisiewoordvoerder Ewa Czyz aan AFP gesê.

Oekraïne se minister van infrastruktuur het dadelik die storting as ʼn “misdaad” bestempel en die Poolse regering versoek om die oortreders te straf.

Die polisie het Dinsdag, tydens die vorige voorval, gesê ʼn klein groepie betogende boere het treinwaens oopgebreek en graan op die spoor by Medyka, nóg ʼn Poolse grens, gestort.

Boere in Pole betoog teen “onbeheerde invoere” van sy oorloggeteisterde buurland. Dit versuur die gewoonlik vriendskaplike betrekkinge tussen Warskou en Kiëf.

“Die onbekende mense het drie treinwaens beskadig,” het Oleksandr Kubrakov, Oekraïne se minister van infrastruktuur, oor die jongste voorval gesê. “Die vrag was deur Pole op pad na Hamburg, Duitsland. Misdade wat ongestraf bly, sal herhaal word. Die misdadigers moet opgespoor word en dadelik gestraf word sodat ander nie versoek kan word om dieselfde te doen nie,” het Kubrakov op Facebook gesê.

Volgens hom sal die Oekraïense spoorweë ʼn verslag aan die Poolse polisie stuur.

Boere betoog reg oor Europa oor stygende koste, hoë brandstofpryse, burokrasie en EU-omgewingsreëls.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.