Grace sê Mugabe moet opvolger aanwys

Robert Mugabe, president van Zimbabwe (Foto: AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi)

Grace Mugabe, vrou van die 93-jarige Zimbabwiese president Robert Mugabe, het Donderdag gesê haar man moet ʼn opvolger aanwys, ʼn onderwerp wat Mugabe vroeër as taboe beskou het.

Grace het aan lede van die regerende ZANU-PF se vroueliga gesê indien ʼn opvolger aangewys word, sal dit “alle lede in staat stel om een kandidaat te ondersteun”, het die staatsuitsaaier ZBC berig.

Mugabe het herhaaldelik gesê dat hy nie ʼn opvolger sal aanwys nie. Die wêreld se oudste staatshoof het gesê hy sal verkiesbaar wees vir volgende jaar se verkiesing. Hy lei dié Afrika-land al sedert 1980.

Sy vrou het vroeër gesê haar man sal selfs uit sy graf die land regeer.

Dit is die eerste keer dat Grace in die publiek haar man aanmoedig om ʼn opvolger aan te wys, alhoewel sy nie aangedui het of haar uitlatings spesifiek volgende jaar se verkiesing ten doel het nie.

Grace, hoof van ZANU-PF se vroueliga, het die afgelope paar jaar al hoe meer politieke mag gekry. Sy het gesê haar man se keuse oor ʼn opvolger sal finaal wees.

Sommige analiste het voorspel dat Mugabe, wat deesdae sigbaar sukkel om te loop, moontlik die verkiesing kan vervroeg. Sy party se sekretaris vir administrasie, Ignatius Chombo, het verlede maand gesê Mugabe kan moontlik die verkiesing in Februarie of Maart hou. Hy kan dit slegs doen indien die parlement besluit om homself te ontbind. Sy party hou die meerderheid in die parlement.

Die Grondwet bepaal dat die vroegste datum waarop Mugabe ʼn verkiesing kan hou, is Julie 2018.

ʼn Stryd om Mugabe op te volg het die afgelope paar maande toegeneem, en kabinetministers en militêre generale het mekaar op sosiale media en hoofstroommedia beledig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Ouboet2 ·

Sal maar sien hoe lank die Zimbabwe mense die vrou sal verduur as mugabe nie meer daar is om haar te beskerm nie.

Vryheid ·

Ag ou bob jys n grap, wie in dié wêreld luister meer na jou twak praaitjies. Siniel die ou man.

Swartkat ·

Aangewese pos vir vriend Zuma met die finansiele steun van die Guptas.Zimbabwe het hulle nodig.

Francois Du Plessis ·

Die baas het gepraat, nou sal hy moet luister.

marous ·

Hoop hy leef vir nog 200 jaar , sodat diegene wat hom verkies het se nakomelinge hom ook kan geniet!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.