Griekeland betree onbekende terrein ná “nee”-stem

Foto: AP Photo/Emilio Morenatti

Foto: AP Photo/Emilio Morenatti

Griekeland het ʼn onbekende terrein betree nadat die meerderheid Grieke “nee” gestem het in die referendum oor die voorwaardes van ’n nuwe hulppakket.

Die referendum het gehandel oor voorstelle van die Europese Sentrale Bank (ESB), die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en die EU-kommissie vir ekonomiese hervorming. Volgens die uitslae het 61% van die Grieke “nee” gestem met 39% wat “ja” gestem het.

Die Grieke se “nee”-stem was ʼn verwerping van die eise van internasionale krediteure vir meer soberheidsmaatreëls in ruil vir ‘n reddingsboei vir die land se bankrot ekonomie. “Vandag vier ons die oorwinning van demokrasie,” het Alexis Tsipras, die land se eerste minister, gesê kort nadat die uitslag bekend gemaak is.

Europese amptenare se reaksie op die uitslag van die referendum sal van kritieke belang vir die land wees. ‘n Eurosone-beraad word Dinsdagaand gehou om die situasie te bespreek.

Jeroen Dijsselbloem, hoof van die Eurosone se ministers van finansies, het die uitslag van die referendum as “baie ongelukkig vir die toekoms van Griekeland” beskryf. Dijsselbloem, Nederland se minister van finansies, het gesê maatreëls en hervormings is onvermydelik vir die herstel van die Griekse ekonomie.

Die internasionale reddingsboei vir Griekeland, wat byna €240 miljard in reddingslenings ontvang het, het verlede week verstryk – op dieselfde dag wat Griekeland versuim het om ‘n terugbetaling aan die IMF te maak, die eerste ontwikkelde nasie om dit te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.