Griekeland se minister van finansies bedank

'n Skermskoot van Varoufakis se Twitter-profiel.

‘n Skermskoot van Varoufakis se Twitter-profiel.

Yanis Varoufakis, Griekeland se minister van finansies, het bedank nadat die meerderheid Grieke “nee” gestem het in die referendum oor die voorwaardes van ʼn nuwe hulppakket.

Die besluit het Griekeland se kans om uit die Eurosone te val, dramaties verhoog.

Dit is ʼn ongewenste scenario vir die Eurosone, wat bedoel was om permanent en sterk te wees toe dit 15 jaar gelede geskep is. Volgens ontleders sal die ergste scenario wees dat Griekeland sy eie geldeenheid moet kry, aangesien banke na verwagting binne dae nie meer euro’s sal hê nie, aangesien die Europese Sentrale Bank (ESB) nie meer noodbefondsing gaan verskaf nie.

Alexis Tsipras, Griekeland se eerste minister, het kiesers egter die versekering gegee dat daar teen Dinsdag ʼn ooreenkoms aangegaan sal word om verdere belangrike befondsing te ontsluit en sodoende in die Eurosone aan te bly.

Tsipras het verder die versekering gegee dat banke, wat verlede week Maandag gesluit het nadat die ESB noodlikiditeitshulp afgesny het, Dinsdag sal heropen. Talle is egter skepties of dit wel sal gebeur.

Die referendum het gehandel oor voorstelle van die ESB, die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en die EU-kommissie vir ekonomiese hervorming. Volgens die uitslae het 61% van die Grieke “nee” gestem met 39% wat “ja” gestem het.

Die Grieke se “nee”-stem was ʼn verwerping van die eise van internasionale krediteure vir meer soberheidsmaatreëls in ruil vir ʼn reddingsboei vir die land se bankrot ekonomie.

Die internasionale reddingsboei vir Griekeland, wat byna €240 miljard in reddingslenings ontvang het, het verlede week verstryk – op dieselfde dag wat Griekeland versuim het om ʼn terugbetaling aan die IMF te maak, die eerste ontwikkelde nasie om dit te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bruno Stef ·

Kommunisme en sosialisme werk uitstekend as jy bakhand staan en op vorige demokratiese stelsels teer totdat alles verteer is MAW niks word op eie inisiatief en harde werk voortgebring nie. Dit is ook dan dat diktators na vore kom en die bevolking met geweld tot stilswye dwing. Voorbeelde ( Noord Korea/ Kuba/ Zimbabwe en vele ander)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.