Grondgryp by Namibiese vakansiedorp

Die foto van die Swakopmund-besetters is op Twitter gelaai.

Die foto van die Swakopmund-besetters is op Twitter gelaai.

‘n Groep inwoners van ʼn informele nedersetting buite Swakopmund in Namibië, het munisipale grond begin beset en wil daar vestig.

“Ons is oorweldig deur die groot getal mense wat hierheen stroom, en vandag is ons 6 000 mense wat plakkershutte gaan bou want ons van wil van vanaand af hier slaap,” het Gotthard Kandume, die groep se woordvoerder, gesê.

“Ons het Woensdag begin met ʼn groep van 50 mense en het pale geplant en vyf plotte uitgemerk. Toe was ons skielik meer as 1 000 en vandag is ons oor die 6 000,” het Kandume gesê. Hy is die stigter en president van die Christian Democratic Voice (CDV), ʼn politieke party wat in 2012 gestig is.

“Ons aksies is ʼn wekroep vir die Swakopmund-munisipaliteit, die burgemeester en politici. Ons het met die regstellende herposisionering van grond begin. Dié spasie gaan oor die volgende paar dae aansienlik verander. Ons soek behoorlike huise, nie klein huisies soos die in Mondesa waar ons soos sardientjies ingeryg is en mense kan hoor as ons babas maak nie,” het Kandume gesê.

Die Swakopmund-munisipaliteit het met Kandume en die groep besetters se leiers probeer vergader maar hulle het geweier. Die munisipaliteit wou nie kommentaar lewer oor die situasie nie.

Job Amupanda, ʼn prominente lid van die regerende Swapo-party se jeugvleuel, het in November saam met vyf ander mense grond beset in Kleine Kuppe in Windhoek. Hy is kort hierna uit die party geskors. Amupanda het ʼn beroep op jongmense gedoen om amptelik by die Windhoek-munisipaliteit vir grond aansoek te doen. Meer as 14 000 aansoeke is by die munisipaliteit ingedien.

Amupanda het die munisipaliteit tot Julie 2015 gegee om grond beskikbaar te maak. “Ons noem dit regstellende herposisionering van grond en het sedert November oproepe van mense regoor die land gekry maar ons is nie direk betrokke by die aksie in Swakopmund nie.”

Volgens Amupanda sal hy nie verbaas wees as soortgelyke aksies in ander dorpe gebeur nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anton Smit ·

En daar val nog n pratige landstreek in Donker Afrika soos SA reeds oppad is

Drieks ·

Swapo doen ook al 24 jaar soos Anc, niks behalwe BEE en daarom doen die mense dit. Ons moet maar bly hoop Afrika wil vorentoe beweeg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.