Grondgryp in VSA op spits gedryf?

 Cliven Bundy

Cliven Bundy

‘n Verwikkeling, volgens die media aanvanklik “onder die radar” het al meer en meer opslae in die VSA begin maak.

Die kwessie het die eerste keer die nuus gehaal toe die federale Bureau of Land Management (BLM) weens “agterstallige weidingsgelde” vee van die beesboer Cliven Bundy geskut het. Bundy se cowboys en ander ondersteuners het egter die BLM, bygestaan deur ‘n SWAT-span, getrotseer en die BLM het die beeste laat gaan.

Die BLM het nou aangedui dat dit sy oog op duisende hektaar grond in Texas het wat langs die Red River aan Oklahoma grens. Dit kan tot 90 000 ha behels.

Dié keer het die prokureur van Texas egter ingegryp en ‘n brief aan die BLM gerig, en daarop gewys dat dit wil voorkom of die BLM sy oog op “private eiendomsreg van hardwerkende inwoners van Texas het”. Hy meen dis onduidelik hoe die BLM meen dat die federale regering eienaarskap het oor grond in privaat besit.

Die BLM beroep hulle op ‘n presedent van ‘n ou federale hof-uitspraak waarin ‘n boer van hierdie streek ‘n lappie van 140 akker (minder as 57 hektaar)  kwyt is.

Die BLM hou vol dat dit openbare grond is wat al geslagte lank deur boere beset en bewerk word.

Die Bundy-saak was egter nie ‘n geïsoleerde geval nie. In ander state in die Weste, soos Utah, is ook aksies geloods. Die rasionaal is klaarblyklik om federale grond weer onder federale beheer te kry.  Bundy meen hy het “voorvaderlike regte” om die grond te benut, en weier reeds twee dekades lank om weidingsgeld te betaal omdat hy nie die federale regering se gesag oor dié saak in ‘n deelstaat erken nie.

Ondersoeke toon egter dat Bundy kluitjies bak – nie sy voorvaders nie, maar sy ouers het in 1948 sowat 64 hektaar gekoop, en sedertdien ook effektief op die federale grond geboer. Die waterregte wat bekom is, geld ook net vir die 64 hektaar.

Die openbare mening oor Bundy verskil hemelsbreed. Aan die een kant word hy in die media as die VSA se nuutste held beskryf. ‘n Man wat teësinnig uit ‘n Paasdiens gekom het om ‘n media-onderhoud toe te staan, en toe vrede gepraat het, het sy lojaliteit aan die VSA bevestig, maar ook verklaar dat hy en sy mense bereid is om te sterf vir waarin hulle glo. Iemand wat sê hulle word deur gebede van gelowiges oor die hele wêreld onderskraag.

Aan die ander kant is daar senator Harry Reid, eier van die Demokrate in die Senaat, wat Bundy en sy mense as “huishoudelike terroriste” beskryf het. Hieroor is Reid wyd in die media gelooi.

Reid word ook daarvan beskuldig dat hy met ‘n Chinese mogul “saamgesweer” het om ‘n reuse sonkragplaas op die grond te bou wat deur Bundy benut is. Om sout in die wonde te vryf is die Chinese firma aanvanklik deur Reid se seun, ‘n bekende prokureur van Nevada, verteenwoordig.

‘n Voormalige personeellid van Reid, Neil Kornze, is onlangs as direkteur van die BLM aangestel – en sedertdien word groot erns gemaak daarmee om federale grond weer onder federale beheer te kry.

Bundy se voorgeslagte benut volgens Bundy en sy ondersteuners reeds sedert 1877 die weiding, maar dit is as kluitjie bewys. Die BLM meen dis federale eiendom, en meen Bundy skuld die staat geld vir die benutting van weidingsregte. Boonop voel die BLM dat die woestynskilpad in die omgewing beskerm moet word.

Intussen het die storie ook ‘n ras-stertjie bygekry. Associated Press het in ‘n 18-maande ondersoek bevind dat talle swart mense in veral die suide van die VSA oor die jare hul grond op allerlei maniere soos onder meer intimidasie en selfs moord kwyt is – in proses wat steeds voortduur volgens die ondersoek. In daardie state alleen is 406 swart grondeienaars altesaam 24 000 akker kwyt.

Swart koerantlesers vra dus in briewe wat die algemene opvatting sou wees as Bundy swart sou wees.

Die BLM dateer uit 1785 en was toespits op die ordening van grondbesit in die oorspronklike dertien kolonies. Met die uitbreiding van die VSA het dit na ander gebiede versprei, en in ‘n stadium is die agentskap erg deur Rooihuidstamme verwyt.

Lees ook:
Video: Cowboys wen stryd in Wilde Weste-herlewing

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.