Groot aardbewing in Afganistan eis tientalle

Puin het op hierdie riksja geval (Peshawar, Pakistan) Foto: @bbcbreaking, Twitter

Puin het op hierdie riksja geval (Peshawar, Pakistan) Foto: @bbcbreaking, Twitter

Die noorde van Afganistan is Maandag geskud deur ’n swaar aardbewing met ’n sterkte van 7,5.

Die aardbewing is ook in groot dele van Pakistan en Indië gevoel. Minstens 100 mense het om die lewe gekom.

Die episentrum van die aardbewing was in die noordoostelike provinsie Badakhshan, in die Afgaanse Hindu Kusj-gebergte. Die dunbevolkte provinsie grens aan Tadjikistan, China en Pakistan. Volgens die Amerikaanse geologiese diens (USGS) het die aardbewing plaasgevind op ’n diepte van 213 kilometer. Die diepte het skade en ongevalle beperk.

In die provinsie Takhar, in die weste van Badakhshan, het minstens 12 meisies omgekom toe daar glo ’n stormloop ná die aardbewing was. Altesaam 30 ander meisies is na ’n hospitaal gebring. In die oostelike Afgaanse stad Jalalabad is minstens vyf mense dood en talle beseer.

Groot dele van die Afgaanse hoofstad Kaboel, waar die aardbewing byna ’n minuut lank gevoel is, sit sonder elektrisiteit. Huise het op hul fondamente geskud en baie mure is verpletter. Die Afgaanse regering kom later Maandag in ʼn spoedsitting byeen.

In die aangrensende Pakistan het minstens 30 mense omgekom. In die grensprovinsie Khyber Pakhtunkhwa is minstens 21 mense dood. Meer as 100 mense in die gebied is beseer. Agt mense het in die stamgebied Bajur, wat aan Afganistan grens, gesterf.

’n Hospitaal in die Pakistanse Peshawar berig minstens 55 beseerdes is opgeneem. Oor moontlike skade is nog niks gemeld nie. Die Pakistanse weermag het soldate na die betrokke gebiede gestuur.

In die Indiese deel van Kasjmir het ’n bejaarde vrou weens ’n hartaanval om die lewe gekom. Die aardbewing is tot in die Indiese hoofstad Delhi gevoel, sowat 1 500 kilometer weg.

Die Suid-Asiatiese streek is bekend vir kragtige aardbewings. Deur ’n sterk aardbewing in Nepal in April vanjaar, die kragtigste in hierdie land sedert 1934, het meer as 8 000 mense om die lewe gekom. Die jongste aardbewing het op dieselfde verskuiwingsvlak as die Nepalese aardbewings voorgekom. Ongeveer 60 persent van die Indiese landoppervlak is sensitief vir aardbewings, volgens die owerhede.

Bronne: Trouw, USGS
Video’s: The Guardian, BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.