Groot debat oor ‘menstruasieverlof’

Foto bloot ter illustrasie. (Unsplash / Kinga Cichewics)

Spanje se plan om die eerste Europese nasie te word wat vroue toelaat om “menstruasieverlof” by die werk te neem, het ʼn groot debat in dié land ontketen.

Dit het veral verdeeldheid onder Spanje se koalisieregering en vakbonde meegebring.

Maroela Media het vroeër berig dat Spanje beoog om mediese verlof in te stel vir vroue wat aan erge menstruasiepyn ly. ’n Konsepwetsontwerp sal na verwagting hierdie week aan die Spaanse kabinet voorgelê word. Luidens dié konsepwetsontwerp sal vroue drie dae per maand verlof kan neem en in sommige gevalle selfs tot vyf dae.

Die sosialistiese premier Pedro Sanchez se regering sal die menstruasieverlof na verwagting insluit as deel van ’n konsepwetsontwerp oor reproduktiewe gesondheid wat Dinsdag tydens ’n kabinetsvergadering goedgekeur sal word.

“Ons sal die reg op verlof in die wet erken vir vroue wat pynlike menstruasiesiklusse verduur. Dié verlof sal deur die staat gefinansier word,” het Irene Montero, minister van gelykheid, Vrydag getwiet.

Sy behoort aan die ver-linkse party Podemos, Sanchez se junior koalisievennoot.

BBC en The Guardian berig dat die konsepwetsontwerp daarop dui dat drie dae siekverlof vir menstruasiepyn toegelaat sal word indien die vrou ’n doktersbrief kan toon. Dié verlof kan moontlik tot vyf op ’n tydelike grondslag strek vir vroue wat besonder intense pyn ervaar.

Dié verlof sal egter nie toegestaan word aan diegene wat ligte ongemak ervaar nie.

“Daar is vroue wat nie normaalweg kan werk en lewe nie omdat hulle baie pynlike menstruasiesiklusse het,” het Montero gesê.

Menstruasieverlof word tans slegs in ’n klein aantal lande aangebied, onder andere in Suid-Korea en Indonesië, maar nie in Europa nie.

In Spanje blyk die kwessie egter omstrede te wees met sommige politici en vakbonde wat sê dit kan vroue in die werkplek “stigmatiseer en die werwing van mans bevoordeel”.

“Jy moet versigtig wees met hierdie tipe besluite,” het Cristina Antonanzas, adjunksekretaris van die vakbond UGT, gesê.

Sy meen dit kan ʼn indirekte uitwerking op “vroue se toegang tot die arbeidsmark” hê.

Spanje se ander groot vakbond, die CCOO, het die voorgestelde maatreël egter verwelkom en dit as  groot “wetgewende vooruitgang” bestempel. Volgens die CCOO sal dit ʼn gesondheidsprobleem erken wat tot nou toe geïgnoreer is.

Nadia Calvino, die minister van ekonomie en ’n voormalige hoofdirekteur vir begroting by die Europese Kommissie wat aan die sosialistiese party behoort, sê daar word aan verskeie konsepte gewerk.

“Die regering sal nooit ’n maatreël aanneem wat vroue stigmatiseer nie,” het sy aan verslaggewers gesê toe sy oor die omstredenheid van die konsepwetsontwerp gevra is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Bella ·

Ek dink dis n klomp twak. Vrouens kan individueel deur hul werkgewer bygestaan word. Daar is n wye verskeidenheid behandelings metodes waarmee hierdie vrouens bygestaan kan word. Om spesiale verlof vir dit toe te ken, spreek eerder tot swak toegang tot mediese sorg of onvoldoende mediese sorg. Geen vrou het nodig om met pyn saam te leef nie. As die vrou endometriose het, daar is behandeling.

Henri ·

Ek, as man, verstaan die idee agter die wetgewing. Endometriose kan egter slegs vasgestel word deur ‘n spesialis of huisdokter met toegang tot spesialistoerusting. Dis ‘n bose siekte wat meer vroue raak as wat mense dink.

Teksa ·

Twak man! Die enigste uitweg vir endometrioses is ñ hysterectomy. Daar is vrouens wat bitter swaar kry en met pyn moet saam leef! Ek was by die beste dokters. Duisende rande spandeer. En my menstruasie is so erg dat ek bloedarmoede het agv dit. Maak eers seker van jou feite asb.

AmY ·

Ek was elke maand by die skool (en later die werk).
Ek het erge pyne gehad en baie swaar gevloei, maar ek is nie anders behandel nie.
Om die waarheid te sê; ek het nie eens geweet wanneer my kollegas gemenstrueer het nie, want dit was privaat gewees. Ons het nie daaroor gepraat nie.
In matriek het ek ‘n drie ure eindeksamen vraestel met erge pyn geskryf. In die 80’s moes jy net daar wees, en klaar!
Daar is fantasiese pille beskikbaar wat jy oor die toonbank kan koop. En dis nie duur nie.

May10 ·

Asseblief wys vir my waarvan jy praat. Vrouens met Endo en PCOS sukkel. Jy weet niks.

Kensy ·

Ek kan insien dat dit nodig kan raak.
Ek self het daarmee gesukkel- selfs flou geword.
Ongelukkig laat dit die deur oop vir vroue wat nie erge pyn ervaar nie om misbruik te maak van hierdie verginning. Hoe bepaal jou dr of jou menstruasie met pyn gepaard gaan al dan nie….??
… and knowing the workforce like I do… gaan pynlike mentstruasies epedemiese proporsies beruik….

VaalDonkie ·

Dis goedkoper om sjokolade in die kantoor se kombuis te sit.

LD ·

Ek ervaar geen maag verwante pyne gedurende menstruasie nie maar wel die ergste migraines wat heeldag se opgooi insluit! Vir die mense wat sê daar is medikasie vir sekere menstruasie probleme, asb lig my in! (maar mens kan ook nie op pille leef vir 7dae aaneen nie, so dit moet darem iets wees wat vir daai tydperk lank gaan werk) Op die stadium is ek ‘n huisvrou maar het in die verlede gewerk en dit was geen grap om op kantoor te wees en met kliënte te werk met so migraine nie en dan om jouself kort-kort te moet verskoon om die badkamer te gaan besoek nie! Ek dink dis ‘n oulike idee maar daar sal beslis vroue wees wat dit gaan misbruik!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.