Groot droogte in Windhoek

Windhoek se middestad Foto: Marianne Styan

Windhoek se middestad Foto: Marianne Styan

Inwoners van Windhoek in Namibië word versoek om minstens 10% van hul water te bespaar weens ʼn swak reënseisoen en lae watervlakke in damme.

“Die watervlakke van drie damme wat die sentrale gebiede bedien is baie laag; tussen 1.2% en 36%,” het Joshua Amukugo, woordvoerder van die munisipaliteit, Woensdag gesê. “Indien ons weer ʼn slegte reënseisoen het, sal die damme teen middel 2016 leeg wees.”

Die munisipaliteit doen ʼn beroep op inwoners, skole en kantore om water te bespaar. “Ons beleef ʼn kritieke fase wat in ʼn ramp kan verander indien dit nie versigtig hanteer word nie.”

Die munisipale boorgate en die waterherwinningsaanleg verskaf ongeveer 35% van die wateraanvraag. “Die boorgate en herwinningsaanleg kan egter nie Windhoek volhoubaar bedien sonder die bykomende 65% van water wat deur die staatsbeheerde NamWater verskaf word nie. Indien die damme nie voldoende water ontvang nie, sal erge waterbeperkings ingestel moet word.”

Die reënseisoen in Namibië is gewoonlik tussen Oktober en April, maar dit was die afgelope seisoen minder as gemiddeld. “Ons hoop dat nog reën sal val voor die einde van April om die damvlakke aan te vul,” het Amukugo bygevoeg.

Windhoek het ongeveer 350 000 inwoners, maar beleef diensleweringsuitdagings weens die toename van informele nedersettings op die buitewyke van die stad. Volgens die munisipaliteit verhuis ongeveer tussen 500 en 600 mense elke maand en rig ʼn plakkershuis op wat sanitasie, lopende water en elektrisiteit benodig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Drieks ·

Windhoek het darm nou vrydag/saterdag reent gekry. Is so bly vir hulle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.