Groot eerbewys vir Namibië se Mboma

Namibië se Christine Mboma vier haar tweede plek in die 200m vir vroue by die Olimpiese Spele in Tokio. (Foto: Luis Acosta/AFP)

Namibië se Christine Mboma is aangewys as die BBC Afrika-sportpersoonlikheid van die Jaar vir 2021.

Sy het die gesogte titel weggeraap voor die Suid-Afrikaanse swemmer Tatjana Schoenmaker en Paralimpiese atleet Ntando Mahlanga, asook die Keniane Eliud Kipchoge en Faith Kipyegon en die Senegalees Éduouard Mendy.

Mboma is die tweede Namibiër, naas Frankie Fredericks, wat die BBC-sporttoekenning ontvang en is die eerste vrouewenner in die geskiedenis van die toekennings.

“Ek voel fantasties en is trots om ʼn Namibiër te wees – en ek bedank al die Namibiërs wat vir my gestem het. Ek het nie verwag om te wen nie. Die toekenning is ʼn beloning vir al die harde werk en mylpale wat ek bereik het,” sê Mboma.

“My prestasie sal ander jong atlete van Afrika motiveer om hul beste te doen en hard vir hul drome te werk. Ek dra die BBC-toekenning aan alle Namibiërs op.”

Mboma was as 18-jarige die eerste Namibiese vrou om ʼn plek op ʼn Olimpiese podium te kry nadat sy silwer in die 200 m by die Tokio Olimpiese Spele verwerf het.

Die jong ster is as 13-jarige wees gelaat en dit was ʼn opdraande stryd om die hoogste vlak van sport te bereik. Dit het haar egter nie gestuit nie en in September verlede jaar het Mboma die 200 m-Diamantligakampioen geword met ʼn tyd van 21,76 s – ʼn nuwe o. 20-wêreldrekord én nuwe Afrika-rekord.

Haar afrigter, Henk Botha, sê toekennings soos dié beteken baie vir atlete en dat dit vir hom as afrigter ʼn voorreg en eer is om deel daarvan te wees.

“Dit is ongelooflik vir ʼn klein plekkie soos Namibië en ʼn jong meisie wat nie meer as drie jaar gelede nie nog kaalvoet in die sand gehardloop het.”

Ben Sutherland, redakteur van BBC Sport Africa, sê Mboma het dalk “net” ʼn silwer by die Tokio-spele verwerf, maar dit is ook haar lewensverhaal waarby mense aanklank gevind het.

Die Namibiese tiener was aan die begin van verlede jaar nog grootliks onbekend, maar het vinnig opgang gemaak – maar in die 400 m.

Daarna, bykans op die spreekwoordelike vooraand van die Olimpiese Spele, word sy ingelig dat haar natuurlike testosteroonvlakke te hoog is. Om haar Olimpiese droom lewend te hou, skakel sy oor na die 200 m, ʼn item waaraan sy nog nooit tevore deelgeneem het nie en een van die mededingendste in atletiek in hierdie stadium.

“Om sonder enige ervaring aan daardie item deel te neem en op daardie ouderdom ʼn silwer in te palm, is ʼn verstommende prestasie, en ek dink dit is wat ons gehoor raakgesien het,” sê Sutherland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Marius

Nieteenstaande al die stampe en stote war sy moes verduur het se baklei en bo uitgekom. Wel gedaan. Bravo !!!