Groot fees vir koningin se 70ste jaar op troon

Koningin Elizabeth II vier volgende jaar haar 70ste jaar op die troon. (Foto: Alastair Grant/AFP)

Buckingham-paleis het Maandag aangekondig dat groot feesvieringe beplan word om koningin Elizabeth II se 70ste jaar op die Britse troon te vier.

Die 95-jarige monarg se platinum-jubileum skop op Maandag 6 Februarie – die dag in 1952 toe sy ná die dood van haar pa, koning George VI, koningin geword het – af.

Brittanje se langsdienende monarg sal die enigste koningin of koning in die land se lang geskiedenis wees wat al 70 jaar lank geheers het.

Paleisamptenare het ʼn reeks geleenthede bekend gemaak waarmee die geleentheid gevier gaan word en wat die koningin se oproep, dat dit ʼn gees van nasionale eenheid sal skep, weerspieël.

ʼn Kompetisie om ʼn nuwe “jubileum-poeding” bekend te stel is een van die hoogtepunte en die wenner sal deur beoordelaars, onder wie die paleis se hoofsjef, aangewys word.

ʼn Digitale landkaart sal ook aan die koningin gegee word wat elke boom aandui wat as deel van haar Green Canopy-inisiatief geplant word. Elizabeth en haar oudste seun, prins Charles, het in Oktober verlede jaar elk ʼn boom op die koninklike landgoed in Balmoral, Skotland, geplant.

Die hoofvieringe sal oor ʼn vier dag lange naweek strek en met openbare vakansiedae op Donderdag 2 Junie en Vrydag 3 Junie afskop.

Op die Donderdag sal meer as 1 000 soldate, perde en weermagmusikante as deel van die koningin se verjaardagparade aan ʼn vaandelparade in die Londense middestad deelneem.

Die Union Jack wapper voor die bekende landmerk Big Ben in Londen. Talle geleenthede word vir die 70 jaar-feesvieringe beplan. (Foto: Justin Tallis/AFP)

Dié jaarlikse gebeurtenis vier die koningin se amptelike verjaardag, maar is die afgelope twee jaar gekanselleer weens die koronaviruspandemie.

Mense sal ook ligbakens in meer as 1 500 dorpe oor die hele land aanskakel, ʼn tradisie wat al eeue lank voortgesit word.

Op die Vrydag sal daar ʼn dankseggingsdiens in die St. Paul-katedraal in Londen wees en die Saterdag daarna sal ʼn regstreekse konsert met van die wêreld se bekendste kunstenaars plaasvind.

Meer as 200 000 gemeenskapspartytjies sal na verwagting op Saterdag 5 Junie plaasvind, asook ʼn  straatparade in Londen met vertonings van lande oor die Statebond.

Die rok en klere wat die koningin in 1953 tydens haar inhuldiging gedra het, sal ná afloop van die hoofgebeurtenisse by Windsor-kasteel uitgestal word.

Koningin Elizabeth II is slegs die tweede Britse monarg om silwer-, goue en diamant-jubileums te vier wat 25, 50 en 60 jaar op die troon herdenk.

Koningin Elizabeth II van Brittanje tydens haar inhuldiging in 1952. (Foto: Royal.uk)

Haar silwer-jubileum is in 1977 ook met landwye straatpartytjies en parades gevier, asook die uitreiking van die Sex Pistols se punk-liedjie “God save the Queen”.

ʼn Hoogtepunt van die goue jubileum in 2002 was toe Brian May van die rockgroep Queen die volkslied op die dak van Buckingham-paleis gespeel het.

In 2012, toe haar diamant-jubileum gevier is, het 1 000 bote ter viering daarvan saam op die Teemsrivier gevaar. Die koningin het kort daarna saam met haar geliefde corgi-honde en die James Bond-akteur, Daniel Craig, by die opening van die Olimpiese Spele in Londen verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Charles ·

70 jaar van gemak, op die rug van die Britse belasting betaler..

Anel ·

En ek verjaar saam met haar. Toe ek gebore is het die dokter vir my ma blomme gebring en gesê sy moet luister, hulle skiet die kanonne om my geboorte te vier. Ek is in ‘n hospitaal naby die paleis gebore. My pa was in die diplomatieke diens. En Jan van Riebeeck het ook die 21ste April verjaar. Toe die koninging is die RSA was het sy haar 21ste verjaarsdag glo hier gevier. Op ‘n manier het my ma-hulle haar op ‘n afstand daardie tyd gesien. Vir my bly sy maar ‘n statige dame, al hou ek niks van die engelse nie. ????

Cherokee ·

Die graad-eentjie wou nie erken hy’s in ‘n hospitaal gebore, want dan sou die ander kinders dink hy’s ‘n sissie. So, toe die juffrou vra waar’s hy gebore, het hy gesê “op die rugbyveld”.

Jaco ·

Daars baie meer Duitse as Engelse bloed in die Britse koninklike familie, met vanne soos Battenberg, saxecoburg-gotha en Hannover. Koningin Victoria en haar man het selfs in Buckingham Palace net Duits met mekaar gepraat

Baardman ·

Britse soustrein. En die belasting betaler betaal vir hulle weelde, in ruil vir wat?

Janee ·

Is dit nie tyd dat die tannie nou begin dink aan aftree nie? Gee ou Charles ook darem nou ‘n kans…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.