Groot geld vir klein 007-wiele

Twee weergawes van die Aston Martin DB5 Junior. (Foto: Verskaf)

Met die jongste James Bond-rolprent, No Time to Die, wat Suid-Afrikaanse silwerskerms ná maande se gewag uiteindelik dié naweek tref, kan jong 007-aanhangers dalk nog nie aan ’n martini weglê nie, maar wel wilde draaie gooi in ’n klein elektriese weergawe van die ikoniese Aston Martin DB5.

The Little Car Company, wat in die Verenigde Koninkryk gesetel is en ook ’n elektriese Bugatti Type 35 en Ferrari 250 Testa Rossa op sy kerfstok het, se spesiale weergawe van die No Time to Die-wintiewiele is twee derdes (66%) so groot as die ware Jakob.

Slegs ’n beperkte aantal van dié motortjies, wat nie ’n afslaankap soos in die rolprent het nie sodat groter kinders en selfs volwassenes vir ’n spin kan gaan, word vervaardig. Elke eienaar kry outomatiese lidmaatskap van die gesogte Aston Martin-eienaarsklub.

Die Aston Martin DB5 Junior sal jou ’n allemintige $125 000 (sowat R1,875 miljoen) uit die sak jaag. The Little Car Company het voorheen ’n soortgelyke DB5-motortjie vervaardig, maar dié spesiale James Bond-wiele spog met spioenasieware wat 007-geesdriftiges van alle ouderdomme opgewonde sal maak.

Speelgoedmasjiengewere kom te voorskyn as die kopligte wegsak en beweeg, flits en boots die klank van geweerskote na. Pleks daarvan dat die nommerplaat soos in die rolprentweergawe roteer, het die motor ’n digitale nommerplaat wat dié toertjie uithaal en volgens die jong eienaar se behoeftes pasgemaak kan word.

Natuurlik het enige goeie geheime agent ’n rookskerm nodig en dié DB5 spuit donker rook by sy uitlaatpype uit sodat jy nes Daniel Craig uit die kloue van skurke kan ontsnap. No Time to Die is Craig se swanesang as die befaamde Britse spioen.

Die DB5 Junior is voorts toegerus met 16 kW-dryfkrag, gekoppel aan vier 1,8 kWh-batterye, en kan ’n snelheid van tot 80 km/h haal. Meer as genoeg woema vir ’n klein spoedvraat.

Die “regte” James Bond Aston Martin DB5 het die eerste keer in die 1964-rolprent Goldfinger sy verskyning gemaak. ’n Latere weergawe, wat vervaardig is om die rolprent Thunderball mee te bemark, is in 2019 op ’n veiling vir $6,4 miljoen (R246 miljoen) verkoop.

Kyk hier na die video:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peach ·

Boys will always be boys….. only the prize tag of the toys differs.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.