Groot krap het glo duur kamera gesteel

Foto: Chris Bray/Facebook

ʼn Ongewone verdagte is geïdentifiseer in die diefstal van ʼn kamera ter waarde van $4 000 (byna R65 000): ʼn reusagtige krap.

Toe die termiesebeeldvormingskamera op Kerseiland in die Indiese Oseaan verdwyn het, was daar een waarskynlike verdagte: die groot rower- of kokoskrap.

Dié tipe krap is die grootste ongewerwelde dier op land in die wêreld en kan tot een meter groot word en tot 80 jaar oud word. Hulle is bekend vir hul nuuskierigheid en kleptomanie. Nou word hulle daarvan beskuldig dat hulle ʼn kamera gesteel het wat aan ʼn span wetenskaplikes behoort het wat die eiland se vlermuise bestudeer.

Navorser Annabel Dorrestein van die Western Sydney-universiteit het gesê dit is nie die eerste keer dat krappe toegeslaan het nie en sy moes die afgelope paar maande al herhaaldelik toerusting van die krappe red.

“Hulle pla my al sedert ek met my PhD begin het,” het sy aan die Australiese uitsaaier ABC gesê. “Hulle sleep kameras weg. Gewoonlik sien ek hulle en hardloop agter hulle aan en dan laat los hulle en kan ek my toerusting terugkry, maar nie dié keer nie.”

Dorrestein sê sy en haar span het die kamera opgestel om oornag aktiwiteit in ʼn veselperskeboom te verfilm. Toe hulle die volgende oggend terugkeer, was die kamera skoonveld.

Die driepoot is omgestoot en die span het krapmerke gevind waar die kamera daaraan vasgemaak was.

“ʼn Groot rowerkrap het dus die kamera gegryp en die kabels verwoes totdat die kamera losgekom het en hulle dit in die bos in kon wegsleep.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Pieter ·

As Eskom dit hoor, gaan hulle dit ook as verskoning gebruik. En sommer die vlermuise ook blameer.

Foefie ·

Tot ‘n meter groot… ek wonder hoe vinnig kan hul beweeg…. Ek sal darem my beentjies stomp hardloop as so gedierte my moet jaag.

Vriendelike Frikkie ·

Dit gaan nie help jy hardloop nie, sy maatjes wag vorentoe vir jou… Hehe

SJME ·

Daar is waarlik geen einde aan God se wonderlike skepping nie – ek staan male sonder tal eenvoudig verwonderd! Hoe wonderlik, ontsaglik en oneindig is Sy skeppingsideewonders!

NS Nederlands vir ‘n termiesebeeldvormingskamera is warmbeeldkamera (warmbeeldcamera)… ‘n Woord wat ek ook gebruik in my werk…

Louise ·

Ek sal my oogtande veruil vir julle werk!
Om die lewe te leef en elke dag die nutuur te waardeer.

andre ·

Die coconut crab se liefde is kokosneute en hulle is bedrewe boomklimmers en het baie sterk knypers

Koffiepens ·

Nee gedoriewaar, nou het ek alles gehoor of eerder gelees…ltl

Amatambo ·

En hier dog ek die bekende ou damkrappe wat in my kleintyd ure lank kon sit en dophou snaaks was, maar hierdie “memeer” is hou weer in’n ander klas…

Danny ·

Sjoe!! Sal ek dit graag wil sien eendag!! Hoe wonderlik is God se skeppings nie! Jammer vir die verlies van toerusting, dalk dit krap-proef volgende keer opstel :)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.