Groot opruimingswerk ná Europese vloedramp

Brandbestryders kyk na ‘n krater langs ‘n verbrokkelde pad in Schuld, Duitsland. (Foto: Christof Stache/AFP)

Reddingswerkers het Saterdag verbete gesoek na oorlewendes en slagoffers van die verwoesting wat vloede in die weste van Europa veroorsaak het. Die dodetal staan reeds op 150 en tientalle ander mense word vermis.

Die weste van Duitsland het die ergste deurgeloop onder die vloede wat ook België, Luxemburg en Nederland getref het en strate en huise onder modderwater gelaat het. Talle gemeenskappe is heeltemal afgesny van die buitewêreld.

Die dodetal in Duitsland staan drie dae ná die ramp aanvanklik getref het reeds op 133 en reddingswerkers sê meer liggame gaan waarskynlik in oorstroomde kelders en huise wat meegegee het, gevind word.

“Ons moet aanneem dat ons nog slagoffers gaan vind,” sê Carolin Weitzel, burgemeester van Erfstadt, waar ʼn vreesaanjaende modderstorting deur die vloede veroorsaak is.

Die Duitse state Noord-Ryn-Wesfale en Rynland-Palts is die kwaaiste getref en inwoners wat gevlug het, keer gaandeweg na hul huise – en tonele van absolute verwoesting – terug.

‘n Jong inwoner help sy huis in Rochefort, België, na die vloede skoonmaak. (Foto: John Thys/AFP)

“Binne minute was daar ʼn golf in die huis,” sê Cornelia Schloesser, ʼn bakker in die dorp Schuld. Die vloedwater het die familie se eeueoue onderneming meegesleur.

“Die afgelope 48 uur was ʼn nagmerrie. Ons skarrel rond, maar ons kan niks anders doen nie,” sê Schloesser terwyl sy kyk na die hope skewe metaal, gebreekte glas en hout wat lê voor wat eens haar winkel se deur was.

In België het die sterftesyfer tot 20 gestyg en tot 20 ander mense word steeds vermis. Meer as 21 000 mense in een streek sit sonder elektrisiteit.

Alexander de Croo, die eerste minister, is op pad na die gebied om self na die “ongekende” vloedskade te gaan kyk. Hy het Dinsdag as ʼn amptelike dag van rou afgekondig.

Luxemburg en Nederland is ook deur swaar reën getref en duisende mense moes onder meer uit Maastricht vlug.

Enorme taak

Duitse soldate begin met opruimingswerk na die vloede. (Foto: Sebastien Bozon/AFP)

ʼn Gebarste dam in Duitsland se Heinsberg-distrik, sowat 65 km van D, het beteken dat sowat 700 inwoners oornag inderhaas die gebied moes ontruim.

In sommige gebiede het brandbestryders, plaaslike amptenare en soldate, sommige van hulle in tenks, met die enorme taak begin om die hope puin wat in die strate lê, op te ruim.

“Dit is ʼn enorme taak,” sê Tim Burzbach, burgemeester van Solingen, ʼn stad in die suide van die Ruhr-gebied.

Die werklike omvang van die ramp word nou eers duidelik nadat beskadigde geboue geassesseer is – sommige sal gesloop moet word – en pogings aan die gang kom om gas-, elektrisiteit- en telefoondienste te herstel.

Die ontwrigting van kommunikasieverbindings het pogings bemoeilik om te bepaal hoeveel mense nog vermis word. Die meeste paaie in die Ahr-vallei is weens die vloedwater onbegaanbaar.

Meer as 90 van die oorledenes het in die Ahrweiler-distrik gewoon. Dit sluit in 12 inwoners van ʼn tehuis vir gestremdes wat in die vloedwater verdrink het.

Roger Lewents, minister van binnelandse sake vir Rynland-Palts, het aan plaaslike media gesê tot 60 mense word nog vermis. Meer as 600 is beseer.

Die regering sê hy gaan ʼn spesiale fonds stig, terwyl die koste weens skade na verwagting miljarde euro’s gaan beloop.

Kanselier Angela Merkel, wat Vrydag van Washington teruggekeer het, het onderneem dat die regering die geraakte munisipaliteite sal ondersteun. Sy sal die gebied na verwagting binnekort besoek.

Klimaatsverandering

‘n Oorstroomde hoofweg in Duitsland. (Foto: Sebastien Bozon/AFP)

Die verwoestende vloede het die kwessie van klimaatsverandering weer op die voorgrond van Duitsland se verkiesingsveldtogte geplaas. Duitsers gaan op 26 September na die stembus, die einde van Merkel se 16 jaar aan bewind.

Pres. Frank-Walter Steinmeier het gevra dat meer in die stryd teen aardverwarming gedoen word in die lig van die ramp. Hy sal Erfstadt na verwagting later vandag besoek.

Armin Laschet, van Merkel se Christian Democratic Union (CDU) en die man wat haar na verwagting as kanselier kan opvolg, het dit as ʼn “ramp van geskiedkundige afmetings” bestempel.

Die tydskrif Der Spiegel sê die ramp gaan ook die soeklig plaas op kandidate se standpunt oor klimaatsverandering. “Mense wil weet hoe politici hulle deur ʼn gebeurtenis soos dié gaan laat lei.”

Die Duitse herversekeraar Munich Re sê lande moet meer natuurrampe verwag. Dit sal ook na verwagting meer omvangryk en meer gereeld voorkom. Die maatskappy sê dit gaan goedkoper wees om eerder voorkomend op te tree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit is omtrent soos hier in Gauteng en Natal alles moet opgeruim en reg gemaak word behalwe vir Randfontein wat altyd so lyk gaan dit ‘n hele ruk vat.

Tiptol ·

By hulle is dit ‘n natuurramp wat die politici moet uitsorteer. By ons is dit politici wat die ramp veroorsaak.

Jr ·

In civilized Duitsland sal hulle dit opruim en spick and span en beter as voorheen hê binne n paar maande. Hier in Suid Afrika sou eers tenders uitgesit word wat natuurlik BEEEEEEEEEE kompliant moet ondersoek word. Dan sal werk eers n paar maande later begin. n Maand later sal daar n strike wees vir meer pay. Dan sal alles gesabouteer en gebrand wees. Na nog twee jaar sal die geld verdwyn. Dan nog strikes omdat local werkers nie gehuur word en en en en…. Like Trump said ” Arsehole end of the world”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.