Groot reis vir Pakistanse olifant danksy Cher-veldtog

Pakistan se eerste minister Imran Khan gesels met Amerikaanse popster Cher in Islamabad (27 November 2020) (Foto: AFP Photo/Pakistan’s Press Information Departement)

Ná jare se openbare uitroepe en ʼn veldtog deur die Amerikaanse popster Cher sal “die wêreld se eensaamste olifant” Sondag ʼn yslike reis van Pakistan na ʼn reservaat in Kambodja aanpak.

Die bekende sangeres en Oscar-bekroonde aktrise het die afgelope paar dae by ʼn dieretuin in Islamabad spandeer om morele ondersteuning te bied aan Kaavan – ʼn oorgewig, 35-jarige olifantbul. Die behandeling wat Kaavan by dié bouvallige fasiliteit ontvang het, het diereregtegroepe wêreldwyd aangegryp en Cher het met ʼn sosialemediaveldtog begin.

Kaavan se toestand en die treurige toestand by die dieretuin het ʼn regter vroeër vanjaar genoop om te beveel dat alle diere geskuif moet word.

“Danksy Cher en plaaslike Pakistanse aktiviste, het Kaavan se lot wêreldwyd opslae gemaak en dit het daartoe bygedra dat hy geskuif kan word,” het Martin Bauer, ʼn woordvoerder vir Four Paws International, ʼn dierewelsynsgroep, gesê. “Cher het ʼn groot platform, so ons is regtig dankbaar vir dit wat sy al sedert 2016 vir Kaavan doen.”

Kaavan, wat deur die media beskryf word as die eensaamste olifant, is die enigste Asiatiese olifant in Pakistan – die klein getal ander olifante by ander dieretuine is almal Afrika-olifante.

Kaavan en Cher (Foto: Cher/Twitter)

Cher het onlangs in die hoofstad in Pakistan aangekom om Kaavan voor sy lang reis na ʼn 10 000 hektaar groot reservaat in Kambodja. Eerste minister Imran Khan het die 74-jarige ster persoonlik bedank. Sy sal na verwagting Sondag na Kambodja vlieg om in dié land te wees wanneer Kaavan daar aankom.

ʼn Span veeartse en kenners van Four Paws het maande lank met Kaavan gewerk om hom voor te berei op sy reis, insluitend om hom op te lei om in ʼn reusagtige metaalkrat in te stap wat op die vragvliegtuig gelaai sal word vir die sewe uur lange vlug.

Dieretuin-beamptes het vroeër ontken Kaavan word in swak gehalte toestande aangehou of dat hy met ʼn ketting vasgemaak word. Hulle het aangevoer hy treur oor sy maat wat in 2012 gesterf het.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sparky ·

Hoop Maroela hou ons op hoogte.Sal graag die storie wil volg.

Therese ·

Voorspoed, Kaavan!
Kaavan is egter net een gelukkige olifant uit derduisende mishandelde dieretuin-diere, en kon op ‘n goedkoper en minder opspraakwekkende wyse gered word.
As Cher en ander bekende persoonlikhede tog maar dieselfde ywer getoon het om die gruwelikhede van die Oosterse “Wet Markets” te ontbloot, kon die wêreld moontlik ‘n volgende vernietigende virus-pandemie gespaar bly. Dalk minder ‘likes’ op sosiale media werd?
‘n Mens se hart breek by die aanskou van gehokte, gesmokkelde Afrika meerkaaie, skilpaaie en enigiets waaraan jy kan dink op hierdie markte.
Sedert Covid19 uitgebreek het, is van die markte gesluit, maar intussen weer oopgestel.
Wanneer gaan iemand met ‘n “groot platform” omgee?

Sandra ·

So ‘n mooi storie van die olifant Kaavan wat nou in ‘n beter plek gaan wees. Ek hou duim vas vir sy veilige reis en aanpassing. Hy gaan die gras ens so geniet.

Sarel ·

Jammer maar die wat weet behoort ook te weet indien die Ou Grote die reis gaan oorleef hy nie lank in nuwe omgewing sal oorleef nie. Veral as hy in rou is.
Sterkte Ou Grote

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.