Groot uitbreking van masels in Afghanistan

Argieffoto (Foto: Adriano Gadini/Pixabay)

Duisende mense is siek en byna 100 mense vanjaar reeds dood weens ʼn uitbreking van masels in Afghanistan, het die Wêreldgesondheidsorganisasie Vrydag gesê. Die organisasie waarsku dringende ingryping is nodig om talle verdere sterftes te voorkom.

Die WGO sê die uitbreking is veral kommerwekkend omdat Afghanistan tans voedsel-onsekerheid en wanvoeding beleef.

“Masels is ʼn doodsvonnis vir ondervoede kinders,” het Margaret Harris, woordvoerder van die WGO, aan verslaggewers in Genève gesê via ʼn video-onderhoud uit Kaboel.

Sy benadruk die behoefte om dringend die siekte te monitor en toetse in die land te doen. “Selfs sonder voldoende monitering is dit duidelik dat daar tans ʼn masels-uitbreking woed. Ons het vanjaar die hoogste getal gevalle gesien en daar is daagliks nuwe gevalle wat aangemeld word.”

Sedert die begin van die jaar is meer as 24 000 gevalle van die hoogs aansteeklike siekte in klinieke gediagnoseer, insluitend 2 397 laboratorium-bevestigde gevalle.

“Ons het ongelukkig 87 sterftes wat aangemeld is. Ons sal nog baie meer sien, as ons nie nou vinnig iets doen nie.”

Die Verenigde Nasies het herhaaldelik gewaarsku dat Afghanistan op die randjie staan van die wêreld se grootste humanitêre krisis met meer as die helfte van die land wat “akute voedseltekorte” beleef en ʼn winter wat miljoene inwoners dwing om ʼn keuse te maak tussen hongersnood of migrasie.

Harris het Vrydag gesê meer as 3 miljoen kinders jonger as vyf jaar oud sal na verwagting voor die einde van die jaar aan akute wanvoeding ly. Meer as 1 miljoen kan moontlik aan die ergste vorm van wanvoeding ly en dalk sterf.

Die WGO het nie spesifieke getalle vir hoeveel kinders reeds weens wanvoeding in die land gesterf het nie, aldus Harris. Sy sê die agentskap hoor egter baie stories van talle gevalle en sien verwoestende tonele in gesondheidsentrums wat kinders, wat ernstig ondervoed is, moet behandel.

“Dit gebeur en dit gebeur nou,” het sy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Parmantige samaritaan ·

Hulle kyk dat die manne baarde groei, en die vroue by die huis bly.

Hoekom ·

Weet nie hoekom het jy afduime nie. Sommige mense lyk my weet nie wie die Taliban is en het geen benul van hulle geskiedenis nie.

Ek stem saam jou die Taliban is aan bewind en moet verantwoordelikheid neem van wat in die land aangaan, hulle is sekerlik te besig om hulle nuwe amerikaanse wapentuig te “polish”, instede daarvan om na die mense en veral die kinders van Afghanistan te kyk.

Anel ·

Nou ja, toe. Alle ander siektes het mos soos mis voor die son verdwyn want daar was mos nou net EEN siekte wat bestaan. Nou wat nou? Behalwe masels, wat gaan nou nog te voorskyn kom? En die grootste gemene deler: hongersnood!!!

Perdeby ·

Wel daar was net 1 siekte gewees die afgelope 2 jaar, ek het 3 familielede verloor en my seun ‘n vriend so ‘n week terug wat geweier het om hom in te ent. Dit gaan maar oor die hongersnood en seker geen werklike werkende gesondheidsdiens nie. Masels is maar orals en sover ek weet is ek as kind en my kinders ingeent daar teen.

Pietertjie ·

Weet ook nie hoekom word my kommentaar uitgevee as ek sê masels-virus en covid virus en griep virus versprei op presies dieselfde manier nie. Mens kan nie die waarheid weg swyg nie.

christo ·

Dis die gevolg van ‘n outokrasie. Duidelik val als uitmekaar noudat die VSA uit is. Indien ‘n volk nie self opstaan teen die onderdrukker, wat bv. geen dienste kan lewer nie, is dit nou maar so. Die Amerikaners kon nie vir ewig die Afghane se baba oppasser wees nie.

christo ·

Dis een ding om ‘n regering omver te werp en ‘n ander om ‘n land en sy regeringsdepartemente te bestuur. Die Taliban het soos die spreekwoordelike hond die bus gejaag en gevang, maar weet nie wat om daarmee te maak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.